Ouers los glo baba by sjebien
Die Namibiese polisie (Nampol) het ’n 34-jarige vrou op Mariental in hegtenis geneem nadat haar vier maande oue baba na bewering vir etlike ure by ’n sjebien agtergelaat is.
Die voorval het tussen Donderdag en Vrydag by ’n sjebien in Takarania plaasgevind, waar die ouers na bewering gedrink het voordat hulle begin stry het en albei die baba sonder kos of basiese sorg agtergelos het, volgens die Nampol se misdaadverslag oor ernstige voorvalle die naweek.
’n Lid van die publiek het later die baba gevind en hom Vrydag na die kantore vir die beskerming teen geslagsgebaseerde geweld geneem. Nampol het gesê die paartjie het twee kinders saam en dat albei kinders in ’n skuiling geplaas is vir hul veiligheid terwyl ondersoeke en verdere prosesse voortduur. Die tweede verdagte was nog nie in hegtenis geneem toe die verslag Sondagaand uitgereik is nie.
Dié saak was onder verskeie ernstige misdaadvoorvalle van die naweek, insluitend gewelddadige huisbrake, roof, verkragting, bedrog en sterftes.
SOLDAAT STERF
Nampol ondersoek ’n geregtelike doodsondersoek nadat die 19-jarige offisierkadet M.P. Kavari na bewering Vrydag omstreeks 12:30 ineengestort het terwyl hy militêre opleiding op die plaas Berquell naby die Osona- militêre basis naby Okahandja ontvang het.
Hy is na die die Okahandja-staatshospitaal vervoer, waar hy met aankoms dood verklaar is.
Volgens Nampol is ’n man in hegtenis geneem nadat hy na bewering Vrydag ’n 13-jarige meisie in die Havana- informele nedersetting in Windhoek verkrag het.
In nog ’n aangemelde verkragtingsaak in die Omusatistreek is ’n 21-jarige vrou na bewering Vrydagaand met ’n mes gedreig en in die bosse naby die Ohakapeke-nedersetting verkrag. Die verdagte was teen Sondagaand nog nie in hegtenis geneem nie.
GEWELDDADIGE HUISBRAAK IN EROS
Die polisie ondersoek ook ’n gewelddadige huisbraak waarin ’n 44-jarige vrou na bewering in die vroeë oggendure van Vrydag in haar huis in die Eros-woonbuurt in Windhoek oorval is.
Die voorval het omstreeks 01:30 in Kilimanjarostraat plaasgevind, waar verskeie verdagtes na bewering by die huis ingebreek, die vrou wakker gemaak en haar hande vasgebind het.
Nampol beweer dat die verdagtes ’n selfoon gesteel, dit ontsluit en toegang tot die Nedbank-toep verkry het voordat hulle die huis deursoek het. Items ter waarde van meer as N$51 000 is na bewering gesteel. Niemand is teen laat Sondag in hegtenis geneem of gesteelde items teruggevind nie.
BANKBEDROG
Op Rehoboth het ’n 78-jarige man na bewering N$39 080 in ’n beweerde bankbedrogspul verloor. Die polisie beweer dat ’n onbekende persoon die man omstreeks 09:23 Vrydag gebel en hom as ’n werkenemer van Bank Windhoek voorgedoen het.
Die slagoffer het na bewering sy bankbesonderhede verskaf, waarna N$39 080 uit sy rekening oorgeplaas is. Geen arrestasies is gemaak nie.
Ook op Rehoboth ondersoek die polisie ’n aanval op ’n brandweerwa wat teruggekeer het nadat ’n huisbrand in Blok E geblus is. Die voorval het omstreeks 03:00 Saterdag plaasgevind toe ’n groep na bewering klippe na die voertuig te gooi.
Een verdagte het na bewering ’n klip deur die venster aan die bestuurderkant gegooi en die voertuig beskadig. Niemand is in hegtenis geneem nie.
Verskeie eiendomsverwante misdade is oor die naweek aangemeld. By Namport se Synchrolift op Walvisbaai het verdagtes na bewering ’n vaartuig se kragtoevoerkabel ter waarde van N$30 000 gesny en verwyder.
Op Ondangwa het verdagtes na bewering by ’n vraghouer by Sun Square Mall in Dragon City ingebreek en PVC-pype en bokse teëls ter waarde van N$13 500 gesteel.
In die Otjomuise-woonbuurt in die hoofstad is items ter waarde van N$14 000 na bewering gesteel nadat verdagtes ’n motorhuisdeur oopgedwing het.
By ’n cuca-winkel in die Onambango B-nedersetting naby Oluno is na bewering ingebreek en goedere ter waarde van N$24 788 is gesteel.
Op Katima Mulilo is eiendom ter waarde van N$16 950 na bewering gesteel nadat verdagtes met ’n kamerdeurslot gepeuter het.
Op Endola het die polisie ’n 40-jarige man in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n tang gebruik het om drie kragkabels by ’n MTC-toring in die Onepandaulo-nedersetting te knip. Die kabels, ter waarde van N$30 000, is teruggevind.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie