Oudleerling verkrag glo onnie in polisieselle

Phillipus Josef
Die beweerde verkragting van ’n onderwyser deur een van sy voormalige leerlinge terwyl hy in aanhouding in die Rundu-polisieselle was, verskerp die kollig op die veiligheidstoestande van gevangenes in polisie-aanhoudingsgeriewe oraloor Namibië.

Volgens inligting wat deur Network Media Hub (NMH) verkry is, is die onderwyser in April vanjaar in hegtenis geneem op die vermoede dat hy onder die invloed van alkohol bestuur het en is in die polisieselle geplaas terwyl hy op sy eerste hofverskyning gewag het.

Daar het hy ’n oudleerling, Claus Do Santos Funete, teëgekom wat ook destyds in aanhouding was.

Funete, saam met ’n ander aangehoudene, Johannes Tapalo Furai, het die onderwyser na bewering op 19 April seksueel met ’n besemstok bedek met ’n kondoom, wreed aangerand.

Die voorval is in polisierekords gedokumenteer.

Beide verdagtes, wat reeds teregstaan op aanklagte van roof en huisbraak, is nou ook van verkragting, aanranding en afpersing aangekla. Die afpersingsklag hou verband met beweerde dreigemente teen die onderwyser, waarin geëis is dat hy hulle N$1 500 betaal, wat hy na bewering gedoen het.

Funete en Furai het verlede week hul tweede hofverskyning in Rundu gemaak. Hul saak is tot 9 September vir verdere polisieondersoeke uitgestel. Hulle is borgtog geweier tydens hul aanvanklike verskyning op 29 April.



ONVEILIG, VYANDIG

Ondersoeke deur NMH het aan die lig gebring dat die Rundu-aanhoudingselle geteister word deur voorvalle van seksuele mishandeling, omkopery en aangehoudenes wat vrylik binne die aanklagkantoor beweeg.

John Mukoya (37), ’n voormalige aangehoudene en taxibestuurder wat in hegtenis geneem is omdat hy glo ’n voetganger omgery het, het die selle as chaoties en gewelddadig beskryf, veral vir nuwelinge.

“Toe ek in hegtenis geneem is, is daar niks vir my gesê nie. Ek is net ingegooi. Die selbaas het vir my gesê ek moet betaal as ek nie geslaan wil word nie. Die beamptes het geweet wat aangaan. Hulle het dit laat gebeur,” het Mukoya beweer.

Hy het bygevoeg vermeende eerste oortreders en diegene wat vir geringe misdade aangehou word, is dikwels die kwesbaarste.

Kavango-Oos se streekbevelvoerder, kommissaris Andreas Haingura, het operasionele tekortkominge by die Rundu-polisiekantoor erken, maar het ten sterkste ontken dat dit onveilig is.

“Ja, die aanhoudingselle van die Rundu-polisiekantoor is veilig,” het Haingura vandeesweek aan NMH gesê.

“Mense skilder ’n prentjie asof dit onveilig is vir ons kinders om vandag daar aangehou te word. Maar sedert hierdie klagtes na vore gekom het, is verskeie maatreëls ingestel,” het hy volgehou.

Hy het erken verdagtes het voorheen sonder toesig by die aanklagkantoor rondgeloop, onwettige ware ingesmokkel en bedrywighede ontwrig, voorvalle wat Haingura aan personeel se nalatigheid toegeskryf het.

“Hierdie is mense wat ons in hegtenis geneem het. Ons hou die sleutels. Sommige van hierdie probleme spruit uit nalatigheid onder ons lede,” het hy gesê.

Oorbevolking, het Haingura bygevoeg, bly ’n beduidende uitdaging, gedryf deur die dorp se bevolkingsgroei en die polisiekantoor se verouderde infrastruktuur.

Stappe word egter gedoen om die probleem te takel, het hy gesê, insluitend die oorplasing van sommige aangehoudenes na ander polisiekantore en die prioritisering van borgtogverhore en die finalisering van sake.

Haingura het bygevoeg met die implementering van strenger beheermaatreëls, “word geen gevangene of verhoorafwagtende gevangene toegelaat om rond te loop nie”.



VOLGEHOUE KOMMER

Ten spyte van hierdie versekerings, het die kantoor van die ombudsman kommer uitgespreek oor die behandeling van verhoorafwagtendes by Rundu.

Advokaat Ingrid Husselmann, die hoof van die ombudsman se kantoor, het hierdie week die langdurige aanhouding van verdagtes in polisieselle gekritiseer en dit ’n sistemiese mislukking genoem.

“Ons het lank reeds kommer uitgespreek oor die langdurige verblyf in polisie-aanhouding,” het sy gesê.

“Wetlik moet aangehoudenes binne 48 uur hof toe gebring word. Indien verdere aanhouding nodig is, moet hulle na ’n korrektiewe gerief oorgeplaas word, maar weens infrastruktuurbeperkings gebeur dit selde,” het sy bevestig.

Husselmann het beklemtoon die ombudsman se kantoor pleit al byna twee dekades lank vir die vestiging van toegewyde voorverhoor-aanhoudingsentrums.

Intussen het adjunkkommissaris Michael Mulisa van die Namibiese Korrektiewe Diens (NKD) ontken dat oorbevolking ’n probleem is by geriewe wat onder beheer van die NKD is.

“Daar is geen oorbevolking by die korrektiewe geriewe van Rundu nie,” het hy gesê.

“Die uitdagings blyk binne die polisie se aanhoudingselle te lê, wat buite ons jurisdiksie val," het Mulisa verduidelik.

Hy het slegs af en toe korttermyn-oorbevolkingsprobleme by Oluno se korrektiewe geriewe opgemerk, wat gevangenes van Zambezi, die twee Kavangostreke en vier noordelike streke bedien.

Die adjunkkommissaris het ook beklemtoon alle gevangenes wat korrektiewe geriewe betree, moet induksie en assessering voor plasing ondergaan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer