Mensehandel neem toe

meer bewusmaking, kapasiteitsbou vir landswye wetstoepassing
Tussen April 2025 en Junie 2026 is 16 Namibiërs uit Mianmar, Laos, Thailand en Kambodja gerepatrieer.
Loise Shiimi

Die adjunkminister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, Linda Mbwale, sê Namibië staar steeds beduidende struikelblokke in die gesig om mensehandel te stuit. Dit ondanks vordering in wetgewing en wetstoepassing.

Tydens die herdenking van die internsionale dag teen mensehandel op Ongwediva, het Mbwale gesê sake neem steeds plaaslik en internasionaal toe. 

“Net in 2026 het ons gevalle aangeteken van drie vroue en twee mans tussen 23 en 31 jaar oud, wat van Namibië na Mianmar verhandel is,” het Mbwale gesê.

Nog gevalle sluit in dié van ‘n ’n 13-jarige Zambiese meisie wat na Namibië verhandel is, asook ’n 14-jarige seun en drie Angolese meisies en vrou van onderskeidelik 12, 16 en 21 jaar oud wat van Angola na Namibië verhandel is.

Die internasionale dag het ten doel om openbare bewustheid te verhoog oor die gevare, aanwysers en misleidende metodes wat handelaars gebruik.

Mbwale het die regering, gemeenskappe en die burgerlike samelewing aangespoor om meer te doen om mensehandel te bekamp. Sy het ‘n beroep gedoen vir meer bewusmaking, kapasiteitsbou vir landswye wetstoepassing, sterker stelsels vir die insameling van data asook verbeterde geriewe en ondersteuning vir slagoffers, en wat herintegrasie, regshulp en berading insluit.

“Bemagtig elke burger om vermoedelike mensehandel  aan te meld en daarteen op te tree, en versterk die sifting van potensiële slagoffers,” het sy gesê.

“Ek doen ’n beroep op julle as ouers, professionele beroepslui en gemeenskapsleiers om mekaar veilig te hou deur vermoedelike mensehandel by die Namibiese polisie aan te meld,” het Mbwale gesê.

Ten spyte van uitdagings het sy gesê Namibië het vordering gemaak met sy raamwerk teen mensehandel. 

Dit sluit in ’n toegewyde eenheid in die polisie, ’n gespesialiseerde hoërhofeenheid om sake in mensehandel te hanteer, asook die ontwikkeling van ’n handleiding vir die opleiding van polisiebeamptes en aanklaers.

Ander maatreëls sluit in ’n slagoffer-gesentreerde benadering wat deur wetgewing ondersteun word, radiodramas in alle plaaslike tale, bewusmakingswerkwinkels in afgeleë gebiede, en kapasiteitsbou vir maatskaplike werkers, onderwysers en wetstoepassers.

Sy het gesê die nasionale gratis hulplyne 10111 en 106 is ten volle operasioneel om datainsameling en noodreaksie te ondersteun.

Oshikoto se streeksbevelvoerder, kommissaris Ndeshipanda Iifo, het namens generaal-majoor Anne-Marie Nainda gesê NamPol het in 2023 ’n internasionale misdaadsindikaat 


kriminele netwerk ontbloot wat werklose Namibiese jeugdiges as “internet-bemarkers” gewerf het.

Volgens Iifo het die sindikaat misleidende werwing, beheerde verblyf, beperkende werksomstandighede en dwang gebruik om slagoffers te dwing om aanlyn bedrog te pleeg. Die bedrywighede het vals identiteite op sosiale media, buitelandse telefoonnommers, kriptotransaksies en geldwasseryskemas ingesluit.

Sy het gesê NamPol het, in samewerking met belanghebbendes, slagoffers gered onder die beginsel van nie-bestraffing, wat mense beskerm teen vervolging vir misdade wat as ’n direkte gevolg van verhandeling gepleeg is.

Iifo het ook melding gemaak van die terugkeer van Namibiese jeug uit Suidoos-Asië wat deur bedrieglike werksadvertensies vir IT-spesialiste, ingenieurs en bemarkers gelok is. 

Tussen April 2025 en Junie 2026 is 16 Namibiërs uit Mianmar, Laos, Thailand en Kambodja gerepatrieer.

Op Oshakati het sake in mensehandel van drie vanaf 2024 tot 2025 tot tien in 2026 gestyg. Op Ondangwa het dit oor dieselfde tydperk van een tot drie sake toegeneem. Die Zambezistreek het 10 sake aangeteken. - [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer