Foto ter illustrasie/Pexels, Cottonbro Studios
Foto ter illustrasie/Pexels, Cottonbro Studios

Meer as ’n miljoen kuberdreigemente sedert 2023

Mens die 'swakste' skakel
Die reaksiespan vir nasionale sekuriteit- en kubervoorvalle (CSIRT) het die verantwoordelikheid om kubermisdaad in Namibië te takel.
Iréne-Mari van der Walt
Die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie (MICT) sê meer as 1,3 miljoen kuberdreigemente is sedert die begin van 2023 identifiseer. Rigo Reddig, die hoof van IT-sekuriteit vir die finansiëledienstefirma Grant Thornton, meen egter die statistiek kyk die mensefaktor mis wat volgens hom verantwoordelik is vir die meerderheid kubermisdaad.

"Die mens is altyd die swakste skakel," maan Reddig wat glo talle Namibiërs kan slagoffers van taktieke soos phishing of vishing word.

Uitvissing (phishing) is ’n metode wat kubermisdadigers gebruik om hoofsaaklik sensitiewe inligting te werf. ’n Slagoffer ontvang ’n e-pos waarin die boosdoener homself voordoen as ’n instelling soos ’n bank en deur die bank se aanlyn platform tot hul bankrekening moet inteken. ’n Skakel is deel van die e-pos waarmee die kliënt kan inteken. Hoewel dit soos die regte webblad mag lyk, is die doel om die naam en wagwoord te werf wat die persoon gebruik om by hul aanlyn bankdiens in te teken. Met die persoon se naam en wagwoord kan kubermisdadigers toegang kry tot hul bankrekening.

Soortgelyk aan uitvissing, word vishing (oftewel voice phishing) gebruik om slagoffers te swendel. In gevalle van vishing bel die kubermisdadiger sy slagoffer en vis dan in ’n soortgelyke manier sensitiewe inligting, soos bankbesonderhede of wagwoorde, uit.

Volgens Reddig kan armoede in Namibië tot kwessies van kubersekuriteit in Namibië bydra. "Armoede is nie ’n rede om by die kultuur uitgesluit te word nie," sê Reddig. Hy verduidelik Namibiërs wat nie toegang tot musiek- en filmplatforms het nie, mag alternatiewe kanale soos roofkopieë gebruik wat weer daartoe kan lei dat hul toestelle die teikens van kwaadwillige indringerware (malware) word.

Volgens hom kan ouer selfoonmodelle meer geneig wees tot kuberaanvalle, weens die feit dat hul sekuriteitsagteware nie meer opgedateer word nie. Swak netwerkdekking en hoë datakoste in Namibië kan ook daartoe lei dat toestelle soos rekenaars nie so gereeld opdaterings van hul sekuriteitsagteware kry soos wat dit nodig is nie.

CSIRT

MICT se woordvoerder, Shoki Kandjimi, het op navraag gesê die reaksiespan vir nasionale sekuriteit- en kubervoorvalle (CSIRT) het die verantwoordelikheid om die soort kubermisdaad in Namibië te takel waarna Reddig verwys. Die CSIRT het onlangs N$7 miljoen ontvang uit die N$20 miljoen wat die regering beplan om oor drie jaar hieraan te bestee.

Kandjimi sê instellings is geneig om weens die risiko aan hul reputasie nie kuberaanvalle aan te meld nie. Hy het egter instansies aangemoedig om kuberaanvalle en pogings van dié aard aan MICT of die regulerende owerheid vir kommunikasie in Namibië (Cran) aan te meld.

Reddig beveel aan dat die CSIRT in samewerking met belanghebbendes en kenners in die private sektor op die been gebring word. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer