Egpaar in Academia as gyselaars aangehou
’n Bejaarde egpaar is Vrydagoggend in hul eie huis deur ’n bende gewapende rowers in die Academia-woonbuurt in die hoofstad as gyselaars aangehou en beroof.
Volgens die Namibiese polisie (Nampol) se jongste misdaadverslag oor ernstige voorvalle die afgelope naweek het vyf verdagtes glo omstreeks 09:10 die egpaar se woning in Lockestraat geteiken. Die polisie het gesê die verdagtes het glo deur ’n elektriese heining gesny voordat hulle toegang tot die erf verkry het. Die egpaar, albei pensioenarisse, is na bewering oorrompel, met skoenveters vasgebind en met messe gedreig terwyl die indringers die huis deursoek het.
Die verdagtes het glo vuurwapens, ammunisie, elektroniese toestelle en kontant gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het. Teen Sondag is geen arrestasies gemaak nie en geen van die gesteelde eiendom is teruggevind nie.
Dié rooftog was een van ’n reeks gewelddadige en ernstige misdade wat tussen 29 en 31 Mei oraloor Namibië aangemeld is.
’n Brasiliaanse (46) toeris het Vrydag ná ’n padongeluk gesterf waarin ’n voertuig van ’n plaaslike safarimaatskappy, Chameleon Safaris Namibia, op die C14-grondpad, ongeveer 110 kilometer vanaf Walvisbaai, betrokke was. Volgens die polisie het die Toyota Land Cruiser met ses buitelandse toeriste aan boord omgeslaan nadat dit ’n meganiese fout opgedoen het. Die vrou het aan haar beserings beswyk wat sy in die ongeluk opgedoen het, terwyl die ander passasiers met geringe beserings weggekom het en mediese behandeling ontvang het. Chameleon Safaris het in ’n mediaverklaring die ongeluk bevestig dat hul voertuig wat vanaf Sesriem na Walvisbaai gereis het, in ’n noodlottige ongeluk betrokke was en hul medelye aan naasbestaandes uitgespreek.
VERDRINKING
Intussen het die polisie in die Elim-kiesafdeling naby Oshikuku in die Omusatistreet ’n geregtelike ondersoek geopen nadat ’n 10-jarige seun Vrydagmiddag in ’n gronddam verdrink het terwyl hy saam met twee ander kinders by die Iihanguti-nedersetting geswem het.
Aan die kus het lewensredders Sondagoggend die liggaam van ’n 37-jarige man naby Vierkantklip buite Swakopmund gevind nadat hy sedert Vrydag as vermis aangemeld is. Dit volg nadat ’n bekende sakeman van Tsumeb se luukse voertuig gesluit op die strand gevind is en voetspore na die see gelei het. Die polisie het ’n geregtelike ondersoek na die dood geopen.
Geweldsmisdaad het ook elders in die land lewens geëis. In die Mondesa-woonbuurt op Swakopmund ondersoek die polisie die moord op ’n man wat oorkant ’n kroeg in Mandume Ndemufayostraat noodlottig tydens ’n bendeverwante geveg ’n. Die slagoffer het glo betrokke geraak toe hy probeer ingryp het, is met ’n mes gesteek en het later by die kroeg se deur ineengesak en gesterf. Die verdagte is nog nie in hegtenis geneem nie.
Nog ’n moordondersoek is in Epako, Gobabis, van stapel gestuur nadat ’n onbekende man glo deur drie verdagtes aangeval is wat steeds op vrye voet is.
In Katutura is ’n 26-jarige man in hegtenis geneem nadat ’n 13-jarige meisie aangemeld het dat sy glo deur hom verkrag is. Die verdagte bly in aanhouding.
In Kavango-Oos het die polisie twee Angolese burgers, onderskeidelik 17 en 25 jaar oud, in hegtenis geneem nadat hulle glo ’n negejarige meisie by die Mburundu-nedersetting tydens verskillende geleenthede verkrag verkrag het. Ondersoeke duur voort.
Die polisie het ook verskeie groot eiendomsmisdade aangeteken. ’n Slagoffer het Vrydag omstreeks 12:37 meer as N$100 000 kontant en persoonlike besittings verloor nadat hy kort ná ’n kontantonttrekking by ’n OTM by die Shell-vulstasie op Grootfontein geteiken is. Die verdagte het glo ook met ’n sak wat waardevolle items bevat in ’n grys Ford Ikon gevlug. Niemand is nog gearresteer nie en geen gesteelde items teruggevind nie.
Afsonderlike huisbraaksake is op Swakopmund, Walvisbaai se DRC-nedersetting, Ndama, Onandjaba en Rundu aangemeld. Van die gesteelde eiendom is teruggevind en verskeie verdagtes is in hegtenis geneem, terwyl ondersoeke na die oorblywende sake voortduur.
Daarbenewens is ’n 34-jarige man naby Zoo Park in Windhoek in hegtenis geneem nadat die polisie hom glo tydens ’n operasie betrap het waar hy onwettig dwelms gesmokkel het. Nog ’n verdagte is in Omuthiya in hegtenis geneem nadat hy glo tydens ’n polisiesoektog in die besit van dagga gevind is.
Die polisie het verder ses verdagtes in afsonderlike wildmisdaadsake in hegtenis geneem wat verband hou met die beweerde onwettige besit van wildsvleis (vlakvark en gemsbok) in die streke van Otjozondjupa en Omaheke.
Nampol se hoofwoordvoerder, adjunkkommissaris Kauna Shikwambi, het gesê ondersoeke na alle aangemelde voorvalle duur voort terwyl die polisie voortgaan met pogings om verdagtes op te spoor en gesteelde eiendom terug te kry.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie