Die Speaker, Saara Kuugongelwa-Amadhila. Foto argief
Die Speaker, Saara Kuugongelwa-Amadhila. Foto argief

Drie mans vry ná hul Speaker ‘probeer bedrieg’

Rita Kakelo

Bedrogaanklagte teen drie mans, wat daarvan beskuldig word dat hulle hul as ’n bankamptenaar voorgedoen het om die Speaker, Saara Kuugongelwa-Amadhila, uit N$159 010 te bedrieg, is voorlopig teruggetrek.

Die Windhoekse landdroshof het die saak verlede maand van die rol geskrap nadat die polisie erken het dat hulle steeds op uiters belangrike telekommunikasierekords van die selfoondiensverskaffer, Mobile Telecommunications Limited (MTC), wag.

Landdros Immanuel Udjombala het die staatsaanklaer, Ndina Hamwele, se versoek toegestaan om die aanklagte ingevolge artikel 6(a) van die strafproseswet terug te trek en Phillipus Iitenge (24), Lott Sakaria (20) en Simon Simon is gevolglik vrygelaat.

Luidens die klagstaat het iemand op 5 Junie 2024 glo vir Kuugongelwa-Amadhila gebel en voorgegee dat hy “Riaan van Wyk” van First National Bank (FNB) is.

Die vermeende kuberbedrieër het haar toe na bewering mislei om ’n werklike of potensiële finansiële verlies van N$159 010 te ly.

Die polisie het Iitenge en Sakaria op 5 Oktober 2024 in hegtenis geneem. Hulle is daarna van bedrog aangekla, tesame met ’n alternatiewe klag van diefstal.

Tydens hul eerste hofverskyning op 7 Oktober 2024 voor landdros Monica Andjaba het die staat borgtog teengestaan. Hamwele het gewys na die erns daarvan om Kuugongelwa-Amadhila te teiken, die vrees dat die mans op die vlug sou slaan aangesien hulle op Walvisbaai gewoon het en die vroeë stadium van die ondersoek.

Toe die saak na die hof terugverwys is vir ’n besluit deur die aanklaer-generaal, is die hof in kennis gestel dat die dossier steeds onvolledig is.

Die hoofondersoeker, speur-inspekteur Ngarihivirikue Nderura, het getuig hoewel hy aanvanklik gedink het die ondersoek is afgehandel, het ’n onlangse hersiening aan die lig gebring dat ’n MTC-dokument nog uitstaande is. 

Hy het geraam dat hy nog ’n maand of twee nodig sou hê om dié rekords te bekom.

Die hof het gelas dat alle borgtoggeld terugbetaal moet word; N$4 000 elk aan Iitenge en Simon en N$2 000 aan Sakaria.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer