Photo Caption
Photo Caption

Boere met rou vleis vasgetrek

Francoise Steynberg

Vier Namibiese mans is die naweek weens die oortreding van bek-en-klouseerregulasies vasgetrek.

’n Boer (35) is Vrydag omstreeks 17:45 op die C20-pad voor die polisiestasie op Stampriet by die padblokkade weens die oortreding van bek-en-klouseerregulasies in hegtenis geneem. 

Hy het glo onwettig en opsetlik ’n plastieksak met 6,1 kg rou koedoevleis op ’n wit Toyota Hilux D4D-bakkie met ’n Gobabis-registrasienommer gelaai en vervoer. Volgens die Namibiese polisie (Nampol) se misdaadverslag van die naweek was hy op pad van sy plaas in die Gobabis-distrik in Omaheke na sy ander plaas in die Hardapstreek. Die polisie het die vleis gekonfiskeer en verbrand. Die verdagte is aangekla en het ’n boete van N$500 gekry. Die polisieondersoek na die voorval duur voort.

Nóg ’n boer (32) is Saterdag omstreeks 13:25, by ’n padblokkade naby Gochas (by die kruising van die C15 en C18) gearresteer. Hy het glo onwettig en opsetlik omaere (tradisionele suurmelk), vars melk, sowel as skaap- en springbokvleis op ’n grys Colt-bakkie met ’n Mariental-registrasienommer gelaai en vervoer. Die verdagte was op pad van sy plaas in die Hardapstreek na Gochas. Die verdagte is aangekla en met N$500 beboet. 

Vrydag omstreeks 17:00 is ’n 27-jarige man by die informele nedersetting Veepos op Aranos in die besit van bokvleis gevind wat vermoedelik gesteel is. Volgens Nampol kon hy geen bevredigende verduideliking vir die vleis in sy besit gee nie.

“Hy het ook Regulasie 85 van die Wet op Dieregesondheid (Wet 1 van 2011), Kennisgewing 385 van 2028 oortree deur rou vleis tydens die verklaarde noodtoestand weens ’n uitbreking van bek-en-klouseer te vervoer.” 

Die helfte van ’n bokkarkas, insluitend die hart, longe en ingewande is gekonfiskeer en verbrand. Die verdagte sal Maandag in die Aranos-landdroshof verskyn. 

’n Namibiese man (44) is Vrydag omstreeks 07:40 gearresteer nadat sy perseel by die Otjivero-kamp naby Omitara deursoek en ’n gemsbokkarkas gevind is. Die vleis word op N$4 000 gewaardeer. Die verdagte is aangekla en sal na verwagting vandag in die Gobabis-landdroshof verskyn.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer