Adjunkkommissaris Nicodemus Mbango, waarnemende streekbevelvoerder van die Namibiese polisie in ||Kharas. Foto Otis Daniels
Adjunkkommissaris Nicodemus Mbango, waarnemende streekbevelvoerder van die Namibiese polisie in ||Kharas. Foto Otis Daniels

BKS: Padblokkades op tien paaie rondom Karasburg

Otis Daniels
// MK testing tag

Die Namibiese polisie (Nampol) se hoof van misdaadondersoeke en waarnemende bevelvoerder in die ǁKharasstreek, adjunkkommissaris Nicodemus Mbango, het ’n beroep op inwoners gedoen om saam met wetstoepassingsbeamptes te werk en die maatreëls na te kom wat ingestel is om die uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) in die streek te beperk en te oorwin. 

“Ons word almal geraak en vra julle om saam te met die beamptes te werk wat by die padblokkades diens doen. Ons het ’n sterk en sigbare polisieteenwoordigheid in die Karasburg-distrik en ons sal nie toelaat dat enige verbode beweging van diere of diereprodukte deur ons padblokkades gaan nie,” het Mbango beklemtoon. 

Hy het gister tydens ’n gemeenskapsvergadering op Keetmanshoop, gefasiliteer deur die goewerneur van ǁKharas, Dawid Gertze, oor die afdwinging van BKS-regulasies en beheermaatreëls in die Karasburg-gebied gepraat. 

Mbango het gesê polisielede wat by padblokkades gestasioneer is, het uitdagings teëgekom, veral wanneer mense wat rou vleis vervoer, gekontroleer word. 

“Mense wil nie gevra word vir hul kwitansies nie, maar die regulasie is duidelik. Die riglyn is dat as jy vleis by ’n winkel koop, jy die kwitansie moet toon. 

“Wat is so moeilik daaraan om die kwitansie te dra vir die vleis wat jy gekoop het?” het Mbango gevra. 

Polisie-operasies is ingestel ná ’n kennisgewing van die direktoraat van veeartsenydienste (DVS) in die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming, wat die beweging van diere in die geraakte gebied verbied. 

“Ons het met ’n operasie vorendag gekom wat daarop gemik is om die wet af te dwing op grond van die regulasies wat aangekondig is. Ons het sowat 30 lede in die Karasburg-distrik ontplooi en tien paaie geïdentifiseer waar ons padblokkades opgerig het,” het hy gesê. 

Die padblokkades word daagliks en deurlopend bedryf. 

“Dit beteken daar is geen kans dat ons enige beweging deur daardie kontrolepunte sal laat gaan sonder dat dit gekontroleer word nie. Ons is dus gereed. Ons vra net volle samewerking van ons gemeenskapslede,” het Mbango verseker. 

Enigiemand wat skuldig bevind word aan ’n oortreding ingevolge die wet op dieregesondheid, kan ’n boete van tot N$100 000 of gevangenisstraf van tot vyf jaar, of albei, in die gesig staar.

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-09-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer