Ambagsman kry borgtog
Borgtog is in die landdroshof op Grootfontein toegestaan aan een van die drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle saamgesweer het om ’n plaaslike beheeraanklaer te vermoor.
Daniel Patrick Tsibeb (36) is Woensdag ná ’n suksesvolle aansoek om borgtog vrygelaat, terwyl sy pa agter tralies bly. Hy is deur Benhard Tjtatjara verteenwoordig en is die seun van Efraim Tsibeb, ’n voormalige polisiebeampte.
Efraim is die eerste beskuldigde in die saak met betrekking op beweerde doodsdreigemente wat teen die beheeraanklaer Kristiana Erastus gemaak is.
Die staat beweer die drie mans het saamgesweer om Erastus leed aan te doen. Sy is glo ook skriftelik gewaarsku dat dieselfde lot haar sou tref as dié van Justine Shiweda, ’n beheeraanklaer op Ondangwa wat vroeër vanjaar dood is nadat sy met onder meer suur aangeval is.
Landdros Nathan Boyd het borgtog van N$10 000 aan Daniel toegestaan, ten spyte van sterk teenkanting van die ondersoekbeampte, inspekteur Theopoline Mathias.
Mathias het aangevoer Daniel woon in dieselfde dorp as die getuies en daar is ’n risiko dat hy by die saak sal inmeng.
Volgens die ondersoekbeampte was die gemeenskap erg geskok deur die dreigemente teen Erastus in wat blyk ’n georganiseerde aanval op amptenare van die hof is.
Die landdros het egter beslis dat Daniel sterk emosionele en beroepsbande met Grootfontein het. As ’n senior ambagsman by die plaaslike munisipaliteit, het die hof bevind dat dit dus onwaarskynlik was dat hy op die vlug sou slaan.
Sy borgtogvoorwaardes sluit in dat hy elke Vrydag by die polisiestasie op Grootfontein moet aanmeld. Hy word ook verbied om enige kontak, direk of indirek, met die klaer of enige staatsgetuies te maak. Daniel mag ook nie die perseel van die landdroshof op die dorp betree nie, tensy dit deur sy hofverskynings vereis word.
Terwyl hy sy tydelike vryheid verseker het, bly sy pa Efraim, in aanhouding. Dié oudpolisieman se aansoek om borgtog sal na verwagting met ’n ander regsverteenwoordiger voortgaan.
Die derde beskuldigde in die saak, ’n polisiebeampte van Grootfontein, geïdentifiseer as Kefas Hoaeb, het nog nie formeel met sy borgtogaansoek begin nie.
Die aanklagte teen die trio sluit in sameswering om moord te pleeg, intimidasie en dwarsboming van die gereg.
Die staat beweer dat die beskuldigdes tussen 5 en 9 Februarie vanjaar saamgesweer het om Erastus aan te rand en te vermoor deur notas te skryf wat bedoel was om haar te intimideer. Die saak is tot 30 Junie uitgestel vir verdere ondersoek. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie