‘432 persone in minder as ’n jaar vermis’
Kommer oor die toename in aangemelde sake vir vermiste persone, insluitend kinders en tieners, het ’n noodkreet ontlok met die parlement wat die kwessie ondersoek.
’n Mosie is verlede week in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê om die kwessie na die toepaslike staande komitee te verwys vir ondersoek en moontlike optrede. Dit is beskryf as ’n “probleem wat lank reeds agterstallige is” wat mense in die land raak.
Body of Christ Party (BCP) se leier en parlementslid, Festus Thomas, het gesê Namibië het ’n kommerwekkende toename in sake van vermiste persone en het verwys na mediaberiggewing wat aangedui het dat 432 sake van vermiste persone in ’n tydperk van minder as ’n jaar geopen is.
Hy het ook syfers aangehaal van die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit aangehaal en gesê dat 201 mense landswyd oor vyf jaar sedert 2019 as vermis aangemeld is.
Die kwessie is verder met mensehandel verbind; Thomas het gesê die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn het tien nuwe mensehandelsake tussen Maart 2025 en April 2026 bevestig.
Volgens hom verteenwoordig dit ’n toename vanaf ses sake wat gedurende die vorige tydperk aangeteken is.
Die mosie het ook verwys na die onlangse dood van Ihuhwa Tomas (48) op Walvisbaai einde Augustus.
Volgens die Namibiese polisie het wagte op geslotekringtelevisie na middernag vir Tomas in ’n oop area tussen die spoorlyn en Sam Nujomalaan by Walvisbaai sien lê. Geen sigbare beserings is aan Tomas se liggaam gevind nie, hoewel sy broeksakke uitgedop was en hy sonder skoene gevind is.
“Dit is baie skokkend as niemand gearresteer gaan word nie,” het die parlementslid sy kommer oor die omstandighede uitgespreek.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie