Omaheke-goewerneur Pijoo Nganate. FOTO ARGIEF rnrnFoto bygedra
Omaheke-goewerneur Pijoo Nganate. FOTO ARGIEF rnrnFoto bygedra

Witvlei-kliniek betwis wanvoedingsyfers

Aurelia Afrikaner

NO BYLINE

Beweringe dat die Witvlei-kliniek daagliks tot 15 babas sien wat ondervoed is, is onwaar en word nie deur amptelike rekords gestaaf nie. 

Dié beweringe, wat wyd op sosiale media versprei is, word verwerp in ’n verklaring wat Dinsdag deur die kantoor van die Omaheke-goewerneur, Pijoo Nganate, uitgereik is.

Volgens amptelike rekords van die kliniek is 14 gevalle van wanvoeding gedurende die eerste agt maande van vanjaar – tussen Januarie en Augustus – aangeteken.

Die syfers wat deur die goewerneur se kantoor verskaf is, toon geen gevalle is in Januarie aangeteken nie, een in Februarie, vier in Maart, een in April en ses in Mei. In Junie en Julie is onderskeidelik een geval elk aangeteken.

“Hierdie syfers toon duidelik die 14 gevalle is oor ’n tydperk van agt maande aangeteken en nie 15 per dag nie,” luidens die verklaring.

Die verduideliking kom te midde van openbare kommer oor berigte oor wanvoeding en die algemene gesondheid van kinders in die streek.

Die verklaring het gemaan foutiewe beriggewing kan gemeenskappe in die streek onnodig ontstel, vertroue in openbare instellings ondermyn en ’n wanindruk van die situasie op grondvlak skets.

Ten spyte van uitdagings het Nganate in Junie gesê daar is tekens van vordering. Hy het toe gesê die sterftesyfer onder kinders jonger as vyf jaar in die streek het beduidend van 15% tot 4% gedaal. 

Volgens hom bly sy kantoor daartoe verbind om met die betrokke gesondheidsowerhede en belanghebbendes saam te werk om wanvoeding in Omaheke te monitor en daadwerklik aan te pak. 

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-11-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer