Waterstofduin glinster buite Walvisbaai

Cleanergy se groenwaterstof-aanleg amptelik geopen
Namibië spog met sy eerste waterstofaangedrewe bus en hervullingstasie deur die vennootskappe van die Europese Unie en private beleggings.
Augetto Graig
Augetto Graig

Die ‘Hydrogen Dune’-aanleg van Cleanergy Solutions Namibia buite Walvisbaai ter waarde van ongeveer 45 miljoen euro (byna N$920 miljoen), is in die teenwoordigheid van ’n besoekende afvaardiging van parlementslede van die Europese Unie (EU) aan die wêreld onthul.

Die aanleg is Donderdag amptelik deur eerste minister Elijah Ngurare geopen, waar hy namens president Netumbo Nandi-Ndaitwah die hoofrede gelewer het. “Vandag stuur ons nie net ’n projek van stapel nie, ons verklaar Namibië se standvastige ambisie om ’n leierskapsrol in die wêreld se oorgang na skoon energie te speel en dus vir Namibië as ’n sleutelspeler in die vervaardiging van groen waterstof en die verwante eindprodukte te plaas.”

Florian Seitz, adjunkhoof van die Duitse ambassade in Namibië, het namens die Duitse federale ministerie van navorsing, tegnologie en ruimte aangekondig dat die Duitse regering Woensdag besluit het om ’n verdere bedrag van ongeveer 2,8 miljoen euro beskikbaar te stel, benewens die toelaag van 15 miljoen euro, oftewel ongeveer ’n derde van die koste, wat reeds aan die ontwikkeling gegee is.

Die res van die belegging is gemaak deur die twee private familiebesighede wat die vennootskap tussen Europa en Afrika verteenwoordig: Namibië se grootste private groep maatskappye, Olthaver & List (O&L) en CMB.Tech van België, die wêreldleier in hoëtegnologie en verskeping.

Sven Thieme, uitvoerende voorsitter van O&L sê familiebesighede fokus minder op korttermyn-­opbrengs en meer op die toekoms. “Dit is deur die onbekende in die gesig te staar dat ware leierskap gekenmerk word. Ons het ’n dapper standpunt ingeneem deur te belê waar ander gehuiwer het,” het hy gesê. VISIE

Thieme het sy dank aan die ­Namibiese regering uitgespreek vir die visie wat “dit moontlik gemaak het vir ons om op so ’n skaal te kan droom”.

Volgens hom is Cleanergy ’n bewys dat die ontmoontlike moontlik kan word as Namibiërs verenig. “Cleanergy Solutions Namibia is ’n baken van wat durf, vennootskap en passie kan bereik. Dit is ’n uitnodiging aan die wêreld om Namibië nie as ’n klein nasie met beperkte middele te sien nie, maar as ’n dapper nasie met ­onbeperkte visie,” sê Thieme.

Op sy beurt het Alexander Saverys, uitvoerende hoof van CMB.Tech, sy boodskap aan die Europeërs gerig: “Belê in Afrika. Belê in Namibië.”

Volgens hom is die Global Gateway-inisiatief, waardeur die ontwikkeling deur Europa ondersteun word, ’n ­gewaagde visie.

“Kyk vandag om julle. Waterstofduin is in minder as twee jaar gebou, hier in Walvisbaai, deur Namibiërs, vir Namibiërs. Hierdie terrein is net die begin van ’n lang reis, een wat ’n blink toekoms vir die nasie kan lewer, maar geloof is noodsaaklik. Ons kan nie elke uitdaging oornag oplos nie, maar saam kan ons berge of duine versit. Moenie geloof verloor nie, wees positief, glo in julself, Ja, julle kan, Namibië,” sê Saverys.

I-Ben Nashandi, uitvoerende direkteur van die Nasionale Beplanningskommissie, het gesê die projek behels die versekering van die infrastruktuur, veerkragtigheid en mededingendheid van die Namibiese ekonomie. Volgens hom is volhoubare energie noodsaaklik en daarsonder groei nywerhede nie, werk hospitale nie en floreer skole nie. Dit is die lewensaar van die ekonomie, het hy benadruk.

“Groen waterstof bied nuwe werksgeleenthede regdeur die waardeketting, maar die werklike potensiaal lê in die aanmoediging van infrastruktuurontwikkeling, insluitend nuwe paaie, hawens, kragnetwerke, waterstelsels en digitale netwerke,” sê hy.

“Groen waterstof is nie net ’n energie-oplossing nie, dit is ’n hoeksteen van veerkragtigheid,” sê hy.

Die EU-kommissaris vir internasionale vennootskappe, Jozef Sikela, het gesê: “Ons ondersteun die ontwikkeling van Namibië se groenwaterstofnywerheid met ons Global Gateway-strategie. Die EU het reeds 1,3 miljard euro (N$25 miljard) in lenings en toelae gemobiliseer, wat meer as 20 miljard euro (N$400 miljard) in potensiale private beleggins aanspoor. Saam bou ons Namibië se groen nywerheid,” sê hy.

- [email protected]

Klik op die skakel: q.my.na/M8P1

Kommentaar

Republikein 2025-11-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer