Lugvaartoperateurs su00EA vertragings in die verwerking van werkspermitte vir buitelandse vlieu00EBniers vererger Namibiu00EB se tekort aan vlieu00EBniers. FOTO ARGIEF
Lugvaartoperateurs su00EA vertragings in die verwerking van werkspermitte vir buitelandse vlieu00EBniers vererger Namibiu00EB se tekort aan vlieu00EBniers. FOTO ARGIEF

Vliegtuie gehok weens trae uitreiking van werkspermitte

‘Geen vuilspel’ in die verwerking van aansoeke
’n Ernstige tekort aan gekwalifiseerde vlieëniers beteken sommige operateurs is nie in staat om tot 45% van hul vliegtuigvloot te laat opstyg nie.
Nikanor Nangolo

Die Vliegtuigeienaars- en Vlieëniersvereniging van Namibië (AOPA Namibia) het die bewerings van die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit verwerp dat aansoeke om werkspermitte van buitelandse vlieëniers regverdig hanteer word.

AOPA waarsku dat administratiewe vertragings en herhaaldelike afkeurings ’n reeds ernstige tekort aan lugvaartvaardighede vererger. 

Die vereniging sê die ministerie se openbare reaksie, wat onsuksesvolle aansoeke grootliks op onvolledige dokumentasie blameer, weerspieël nie die ervarings van lugvaartoperateurs wat verlore dokumente, lang vertragings en onopgeloste sake aangemeld het ten spyte van die indiening van volledige aansoeke nie.

In reaksie op kommentaar deur die ministerie se woordvoerder, Margaret Kalo – dat aansoeke streng volgens vasgestelde vereistes beoordeel word en daar “geen vuilspel” in die proses is nie – sê AOPA die situasie kan nie bloot toegeskryf word aan aansoekers wat nie die vereiste dokumentasie verskaf nie.

“Indien ’n aansoek nie goedgekeur word nie – nie net vir vlieginstrukteurs nie, maar vir enige aansoek – verskaf ons die rede vir die afkeuring,” het Kalo gesê.

Volgens AOPA dui bewyse in die witskrif vir die lugvaartbedryf op ’n wyer sistemiese uitdaging wat operateurs raak.


KWESSIES

Volgens die vereniging het maatskappye voorvalle aangemeld waar volledige aansoekpakkette na bewering verlore geraak het ná indiening, dokumente verval het gedurende die lang verwerkingstydperke sonder kennisgewing en aansoeke maande lank onopgelos gebly het terwyl dit intern verwys is.

AOPA verwys na ’n geval waar die ministerie se regsafdeling die proses nege maande vertraag het sonder om enige terugvoer te gee, terwyl ’n ander operateur ’n vertraging van ses maande weens teenstrydige vereistes tussen die ministerie en die Namibiese Inkomste-agentskap (NamRA) ervaar het.

“Dit is nie die ervarings van aansoekers wat vergeet het om ’n dokument aan te heg nie,” sê AOPA.

Die vereniging se reaksie kom te midde van groeiende kommer oor Namibië se tekort aan kommersiële vlieëniers en vlieginstrukteurs.

Namibië het slegs 202 gelisensieerde kommersiële vlieëniers, ’n syfer wat, volgens AOPA, onvoldoende is om lugvaartbedrywighede te handhaaf.

Navorsing van die vereniging het bevind dat slegs 21 nuwe lisensies vir kommersiële vlieëniers sedert Januarie 2024 uitgereik is, met ’n gemiddeld van sowat tien nuwe kommersiële vlieëniers per jaar. Dit ten spyte van die bedryf se dringende behoefte aan minste 60 bykomende kommersiële vlieëniers en 14 vlieginstrukteurs.


GEHOK

AOPA het gewaarsku die tekort raak reeds lugvaartondernemings, met sommige operateurs wat aangemeld het dat tot 45% van hul vliegtuigvloot nie kan opstyg nie weens ’n gebrek aan gekwalifiseerde vlieëniers.

Alle beskikbare Namibiese kommersiële vlieëniers en vlieginstrukteurs is reeds in diens, wat operateurs afhanklik maak van buitelandse vlieëniers om kritieke gapings te vul, volgens AOPA.

Die AOPA-opname onder 11 kommersiële operateurs en vliegopleidingsorganisasies het bevind dat die sektor 131 kommersiële vlieëniers in diens het, bestaande uit 77 Namibiërs en 54 buitelandse burgers.

AOPA sê egter vertragings in die verwerking van werkspermitte verhoed dat geskikte, gekwalifiseerde buitelandse vlieëniers beskikbare poste vul.

Volgens die vereniging het Namibië die afgelope twee jaar 2 172 vlieëniersaansoeke ontvang, maar slegs 47 daarvan was van Namibiërs. AOPA sê 280 buitelandse aansoekers het aan operasionele en veiligheidsvereistes voldoen, maar baie het gesukkel om goedkeuring te kry om te werk.

Kritiek is ook uitgespreek oor wat beskryf is as ’n teenstrydigheid tussen die ministerie se huidige openbare standpunt en sy vorige betrokkenheid by die lugvaartbedryf.

Volgens AOPA het die ministerie in Desember 2025 die erns van die kwessie erken en hom tot dringende deelname verbind. Die vereniging meen egter dat die ministerie die krisis tans bloot as roetine-nakoming beskou.

“’n Ministerie wat in Desember 2025 privaat die erns van hierdie kwessie erken het, behoort nie maande later dieselfde kwessie as een van roetine- administratiewe nakoming te bestempel nie,” sê AOPA. 

Die ministerie het nie onmiddellik op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer