Vissermanne soek vergoeding

-
-
Phillipus Josef

’n Groep van 252 voormalige Namibiese werknemers van die Yslandse vismaatskappy Samherji het formeel regstelling en vergoeding geëis oor die voorwaardes van hul ontslag meer as ses jaar nadat hulle afgelê is in die nadraai van die Fishrot-korrupsieskandaal.

In ’n brief aan Samherji gedateer 2 Maart 2026, het prokureurs van Metlaw Attorneys & Notaries wat namens die voormalige werkers optree, gesê die destydse skeidingsbetalings was “’n skrale 530 euro (N$10 000)” en het nie jarelange diens, behoorlike kennisgewingsbetaling of statutêre vereistes weerspieël nie.

Die brief, met ’n volledige lys van die 252 werknemers, stel 16 Maart as die sperdatum waarteen Samherji moet reageer met voorstelle oor hoe verligting vir die afgedankte werkers gebring gaan word.

Vanjaar is die sewende jaar sedert die Fishrot-skandaal tot Samherji se onttrekking uit Namibië gelei het, wat dit voortsleep sonder dat die korrupsieverhoor begin het.

Volgens die brief is geen geen voorsiening vir vergoeding aan die slagoffers, die werkers en hul families gemaak nie, ten spyte van kriminele arrestasies, batebeslagleggings en verkope wat met die saak verband hou.

“Ons kliënte en hul families word soos onbedoelde skade behandel,” lui die brief. 

Dit beklemtoon verder dat pogings tot tydelike indiensneming nie stabiele lewensonderhoud herstel het nie en dat die werkers sedert hul afleggings aan “uiterste armoede en nood” gely het.

Die Fishrot-skandaal het die eerste keer op 12 November 2019 internasionaal opslae gemaak toe WikiLeaks duisende interne Samherji-dokumente en -kommunikasie (die Fishrot-lêers) gepubliseer het. Volgens die lêers het die maatskappy aansienlike bedrae aan senior Namibiese amptenare en politici betaal om winsgewende visvangkwotas vir maasbanker in stryd met behoorlike prosedures te verseker. Dit het daartoe bygedra dat Samherji die oorheersende aandeel in die toekenning van kwotas in Namibië gehad het.

Die onthullings het onmiddellike politieke uitval in Namibië veroorsaak. Op 13 November 2019 het die destydse minister van visserye Bernhardt Esau, en die minister van justisie Sacky Shanghala, ná bewerings van hul betrokkenheid bedank. Samherji se bedrywighede – insluitend sy plaaslike filiale soos Saga Seafood – is in Namibië gestaak en sy vaartuie het die land se waters verlaat soos die skandaal ontvou het.

Hofdokumente wat deur die kantoor van die prokureur-generaal voorberei is, dui daarop dat Samherji met sowat N$547 miljoen onwettig voordeel getrek het. 

Dit is bewerkstellig deur toegang tot visvangkwotas en verwante betalings wat aan plaaslike entiteite gekoppel is wat met amptenare wat in die saak geïmpliseer is, verbind word.

Sedert 2019 is ’n aantal Namibiese hooggeplaastes, insluitend ministers, sakebestuurders en ander medewerkers, aangekla van bedrog, afpersing en korrupsie wat met Fishrot verband hou. Regstappe word egter vertraag omdat die verhoordatum steeds hangend is.

Destyds is berig dat Samherji na die oopvlek van die korrupsie, groot getalle werknemers deel van sy bedrywighede in Namibië afgedank het. Ongeveer 210 werknemers op die MVSaga en MVGeysir is vroeg in 2020 afgelê nadat die vaartuie Namibiese waters verlaat en ooreenkomste vir kwotas verval het. Die bemanning van die vissersvaartuig Heinaste is in 2019 afgelê en het nie volgens die Namibiese arbeidswet die regte afleggingspakkette ontvang nie. Vakbonde soos die Nasionale Unie van Namibiese Werkers (NUNW) het in die openbaar ’n beroep op Samherji gedoen om werkers hul billike uittreepakkette te betaal en gesê dat die winste uit viskwotas deur ’n paar geniet is, terwyl werknemers onder werkverliese en onvoldoende vergoeding gely het.

Die jongste eisbrief poog nie om individuele blaam toe te ken nie, maar vra Samherji om met Metlaw saam te werk oor ’n “weg na remediëring vir die nadelige gevolge wat ons kliënte gely het”. 

Volgens die brief is die ondertekenaars nie deel van litigasie wat deur ander entiteite soos Restitution Litigation Limited aanhangig gemaak is nie. 

Dit lui ook dat die 252 werknemers nie ander gemagtig het om namens hulle op te tree nie. Sou daar geen samewerking teen die sperdatum aan die kant van Samherji is nie, waarsku die brief dat verdere stappe geneem kan word. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer