Vir die olifante

Ndlovu sing vir bewaring
Ndlovu simboliseer krag, wysheid en 'n diep verbintenis tot die natuur.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Ndlovu (/’ndlo℧vu:/) beteken in Zoeloe olifant en daarom is dit immers gepas dat ’n groep wat dié naam deel en op wêreldverhoë mense met hul stemme oorrompel, Afrika se mees majestueuse dier sal vier.

Volgende Saterdag (4 Oktober) weerklink die wydbekroonde Ndlovu-jeugkoor se harmonieuse stemme oor die Namibiese woestyn wanneer die koor tydens ’n spesiale optrede by Goanikontes-Oasis vir die land se woestynolifante sing.

Die jeugkoor is in Januarie 2009 deur die Ndlovu Care Group gebaseer in Elandsdoorn in Limpopo gevorm. Dit bestaan uit ’n groep jong mense van die versorgingsgroep in die landelike nedersetting Moutse in Elandsdoorn met hul ouderdomme wat wissel van 14 tot 25 jaar. Dit was die komponis en dirigent Ralf Schmidt wat besluit het om ’n musiekprogram vir kinders as deel van die versorgingsgroep te begin. Die doel - om die voordele van wêreldklas musiekonderrig na jong mense in ’n landelike gemeenskap te bring.

Dr. Hugo Templeman, ’n Nederlandse dokter, het die versorgingsgroep in 1994 begin om innoverende gesondheid- en kindersorg, onderrig en gemeenskapsontwikkeling te verskaf. Ndlovu simboliseer krag, wysheid en ’n diep verbintenis tot die natuur en is ’n van wat algemeen in Suid-Afrika en Zimbabwe voorkom. Histories word die Ndlovu-van geassosieer met stamme en families wat ’n beduidende rol in die sosiale en politieke strukture van hul gemeenskappe gespeel het.

Sedert sy ontstaan het die Ndlovu-jeugkoor die lewens van sy lede diep aangeraak en gewys hoe enige mens, ongeag sy of haar agtergrond, opvoeding of komvandaan, ongelooflike hoogtes kan bereik. Dit van ’n nederige begin as ’n nasorgaktiwiteit tot ’n professionele ensemble wat op wêreldverhoë mense se harte met hul stemme roer en verower en selfs lede van die gewilde popgroep Queen oorompel het met hul Zoeloe-weergawe van hul treffer ‘Bohemian Rhapsody’.

Die koorlede se passie en energie tydens hul vertonings is aansteeklik en hul repertoire wissel van Afro-Pop ‘classics’ tot tradisionele Suid-Afrikaanse musiek en oorspronklike komposisies gekombineer met asemrowende choreografie. Die groep sing in al 11 Suid-Afrikaanse tale en wat Zoeloe, Xhosa en Engels insluit. Hul musiek sluit tradisionele Suid-Afrikaanse genres soos isicathamiya in, ’n styl wat beroemd gemaak is deur Ladysmith Black Mambazo.

In 2018 het die koor professioneel begin optree om te verseker dat die lede ’n inkomste vir hulself kon genereer deur die deel van hul musiek en talent.

Onder aanvoering en begeleiding van die koor se stigter Ralph Schmitt het die jeugkoor Beste Onafhanklike Musiekvideo by die Hollywood Musiek in Media-toekennings in Oktober 2018 gewen vir hul weergawe van Ed Sheeran se Shape of You saam met die fluitspeler Wouter Kellerman. In Suid-Afrika het hulle twee SA Musiektoekennings op hul trofeerak. Die kersie op die toekenningskoek was hul buiging in die finale rondte van Seisoen 14 van America’s Got Talent, die eerste keer wat ’n koor in dié sowel as die Britain’s Got Talent-kompetisie die eindrondte kon haal. Namibiërs het nou die voorreg om op 4 Oktober met die woestyn as agtergrond tydens ’n oggend van musiek en bewaring die koor en hul magiese stemme te kan ervaar. Die spesiale vertoning vind om 09:30 by Goanikontes-Oasis buite Swakopmund ter ondersteuning van Elephant Human Relations Aid (EHRA) plaas.

EHRA help sedert 2003 om vreedsame verhoudings tussen vrylopende woestynolifante en plaaslike gemeenskappe in Namibië te bou. Kaartjies kos N$300 vir ’n volwassene en N$150 vir kinders tot 12 jaar. Kontak Sonya Engelsmann by e-pos [email protected] of 081 129 9130 vir jou kaartjie!

Kliek hier vir hul uitvoering in Zoeloe van “Bohemian Rapsody” :

https://q.my.na/HDAW

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer