Vind jou stem
‘n Afgetrede onderwyseres van Rehoboth, Erica van der Hoven, het dit op haarself geneem om ‘n platform vir die jongmense in haar gemeenskap te skep om hul stem te vind.
Erica gaan in September ‘n openbare redenaarsgeleentheid op die dorp aanbied om deelnemers so te help om “hul stem te vind, selfvertroue te bou en kommunikasievaardighede te ontwikkel wat hulle lewenslank sal bevoordeel”.
Na 36 jaar in die onderwys het Erica in Januarie vanjaar uit die klaskamer tot op die spreekwoordelike verhoog getree met haar deelname aan die Virtuele Volgende Topspreker-toernooi waar sy derde uit 4 700 deelnemers geëindig het.
Sedertdien het Erica op verskeie platforms gepraat en selfvertroue- en leierskapsprogramme vir beide jongmense en volwassenes ontwikkel. Een van die platforms was die aanbied van slypskole vir korporatiewe instellings oor die sielkundige voorbereiding vir ‘n vervullende aftrede.
Een van die instellings was Nampower, met die slypskool wat volgens sy praktisyn vir welstand, Zelnadia de Waal, “'n veilige en boeiende ruimte geskep het vir refleksie, praktiese bespreking en vooruitdenke”.
“Dit het deelnemers toegerus met die sielkundige gereedskap om hierdie nuwe seisoen met selfvertroue, duidelikheid en 'n hernieude sin van doel te betree,” sê Zelnadia.
Erica het na verskeie van die slypskole die belangrikheid besef om ook aan jongmense die opleiding en platform te gee om hul stem te vind en hul selfvertroue te bou.
“Baie jongmense het die vermoë, maar nie die selfvertroue om hulself uit te druk nie. Die platform bied ‘n veilige ruimte om selfvertroue, kommunikasievaardighede en leierskap te ontwikkel, terwyl hulle ook ontdek dat hul stem saak maak,” verduidelik Erica.
Tydens haar loopbaan as onderwyser het sy dikwels ervaar hoe baie talentvolle leerlinge eerder stilbly, omdat hulle nie selfvertroue gehad het nie.
Vandag help sy oud en jonk om daardie vrees te oorkom en met selfvertroue hul stem te laat hoor.
Vind jou stem vind op 5 September by Tropic of Capricorn buite Rehoboth plaas en jongmense en volwassenes is welkom. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie