Vennootskappe gesluit by waterstofberaad

US$1,7 mjd. moet ontplooi word, volgens Mnyupe
Namibië neem die voortou met vordering en vennootskappe by die globale Afrika-beraad.
Augetto Graig
Augetto Graig

Meer as 1 500 deelnemers van meer as 75 lande het Namibië verlede week besoek om deel van die driedaagse Globale Afrika-waterstofberaad by die Mercure-hotel in Windhoek te wees.

Projekontwikkelaars en jeugverteenwoordigers het die finansiering, infrastruktuur en gemeenskapsvoordele van meer as 50 lonende waterstofprojekte oraloor Afrika bespreek.

In sy afsluitingstoespraak het Damian Howard, die senior visepresident vir energie, LNG en Afrika van die geleentheid se organiseerders, dmg events, gesê die tema vir vanjaar se tweede beraad “Ambisie in aksie: Die aanvuur van Afrika se groen nywerheidsrewolusie” is tydens die beraad verwesenlik.

“Dit was meer as net ’n geleentheid, dit was werklik ’n beweging om te verenig en te bemagtig om tasbare optrede te dryf,” het hy gesê en ’n enkele stuk “groen” yster wat deur HyIron verwerk is, as bewys getoon.

Tydens die beraad is nuwe vennootskappe tussen die Daures Green Hydrogen Village en Thyssenkruppe, die Duitse multinasionale nywerheids- en tegnologiegroep en leier in groen waterstofgebaseerde produksie, aangekondig; sowel as tussen Neuman and Esser en Bosch Mobility; Hyphen Hydrogen Energy en Zhero; en NamWater en die Namibië Instituut vir Mynbou en Tegnologie (Nimt).

Sigrun Leffler, die projekbestuurder vir die OP-VET multivennootspilpunt van Team Europe, het die Global Gateway-toelaag ter waarde van twee miljoen euro vir Kenia se waterstofverwante beroepsopleidingsontwikkeling tydens die afsluitingseremonie aangekondig. Sy het ook gesê besonderhede van soortgelyke finansiering vir Namibië sal eerskomende Vrydag by Nimt aangekondig word.

Algerië se aansluiting by die Afrika Groenwaterstofalliansie is ook terselfdertyd aangekondig.

Verder het Beth Trask ’n navorsingsvennootskap tussen haar Global Energy Transition Environmental Defence Fund, Africa Practice en Development Reimagined aangekondig, om te kyk hoe Europa se klimaatdoelwitte en “groen” nywerheidsontwikkeling in Afrika bevorder kan word deur die vestiging van groenwaterstofnywerhede oraloor die vasteland.

“Namibië is ’n kritieke gevallestudie” in hierdie verband, volgens haar.

Die visevoorsitter van die China Waterstofontwikkeling- en Vernuwingsalliansie vir Stedelike Gas (CHAG), dr. Ziyuan Wang, het ook dié alliansie se nuwe vennootskap met die Namibiese groenwaterstofprogram by die geleentheid aangekondig.

“Ons sien uit na ’n lang en suksesvolle vennootskap, met die hoop dat samewerking tussen Afrika en China die internasionale ontwikkeling van waterstof sal bevorder,” het hy gesê.

Joseph Mukendwa het namens die Namibiese groenwaterstofprogram gesê die vennootskap dui daarop dat “China ook aan hierdie geleentheid wil deelneem”.

Dr. Kaire Mbuende, die direkteur-generaal van die Nasionale Beplanningskommissie, het sy hoë verwagtinge vir die uitkoms van die beraad, wat Namibië as ’n toerismebestemming en waterstofontwikkelingspilpunt bemark, geopper en gesê hy hoop op meer “verbintenisse tot die toekomstige ontwikkeling van projekte”.

Namibië se groenwaterstofkommissaris, James Mnyupe, is vroeër verlede week aangehaal: “Ons probeer om Namibië se deel van ongeveer US$1,7 miljard (ongeveer N$33 miljard) wat ons nou huis toe wil bring, te mobiliseer en dit in ons projekte te begin ontplooi.”

Hy het volgens Xinhua, China se staatsnuusagentskap, gesê: “Namibië het nou verder as die droom gegaan en dit begin nou bou, produseer en implementeer.”

Meer aankondigings rakende groen waterstof word oor die komende maande verwag, met Cleanergy Solutions se amptelike inwyding van die Hydrogen Dune- geriewe buite Walvisbaai wat na verwagting reeds eerskomende Donderdag sal plaasvind.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer