Parke in Windhoek se westelike voorstede staar diefstal en vandalisme in die gesig. FOTO ARGIEF
Parke in Windhoek se westelike voorstede staar diefstal en vandalisme in die gesig. FOTO ARGIEF

Vandale teister parke

Begroting nie deur vooroordeel gelei
Openbare speelparke in Windhoek se digbevolkte woonbuurte en nedersettings loop erg deur onder vandalisme, diefstal en uitermatige gebruik.
Phillipus Josef

Die toestand van sekere munisipale speelparke in Windhoek het vrae laat ontstaan oor die verskil in voorkoms en instandhouding van openbare ontspanningsruimtes oraloor die hoofstad. 

Dit volg na aanleiding van vrae wat Network Media Hub (NMH) aan Stad Windhoek (CoW) se woordvoerder, Harold Akwenye, gerig het oor die instandhouding, sekuriteit en bestuur van openbare parke, speelgronde en groen ruimtes in die hoofstad. 

Terwyl die munisipaliteit volhou dat hy nie ’n ongelyke benadering tot instandhouding toepas nie, vertel verskille op die grond egter ’n verhaal van uitermatige gebruik, misdaad en beperkte sekuriteit. Ter plaatse besoeke deur NMH het ’n sigbare kontras gewys. 

In digbevolkte woonbuurte is verskeie munisipale parke sonder sekuriteit gevind en het dit duidelike tekens van vandalisme getoon, met infrastruktuur wat beskadig is en toerusting wat verwyder is.

In teenstelling hiermee het besoeke aan munisipale parke in woonbuurte soos Eros gewys dit is in ’n goeie toestand, met ’n sigbare rotasie van sekuriteitswagte wat die speelgrondgeriewe monitor.

Volgens Akwenye is die verskille nie as gevolg van vooroordeel in begrotings nie, maar eerder ’n geval van operasionele werklikhede.

“Die munisipaliteit bly daartoe verbind om te verseker dat alle openbare geriewe op ’n billike, deursigtige en volhoubare wyse tot voordeel van alle inwoners in stand gehou word,” het hy gesê.

Akwenye het verduidelik dat Windhoek in oostelike en westelike operasionele sones verdeel is, met 17 geriewe in die oostelike en 15 in die westelike gedeeltes van die hoofstad. Instandhouding word óf op ’n geskeduleerde maandelikse basis óf as eenmalige ingryping uitgevoer, afhangende van hoe gereeld die betrokke geriewe gebruik word.


DRUK

Volgens hom word die besteding aan instandhouding nie per sone bepaal nie, maar word dit gelei deur behoefte, vlakke van gebruik en ook die toestand van die betrokke geriewe.

Openbare parke in digbevolkte gebiede, waarvan baie in die westelike gedeeltes geleë is, ervaar daagliks swaarder gebruik, wat gevolglik tot vinniger slytasie en meer gereelde herstelwerk lei.

Volgens Akwenye staar munisipale parke in digbevolkte gebiede, veral in gebiede soos Katutura, verskeie uitdagings in die gesig. Dit sluit vandalisme en diefstal van infrastruktuur in, wat pogings tot instandhouding ondermyn en die lewensduur van geriewe verkort.


BEPERKINGS

Sekuriteit bly beperk en word geprioritiseer vir openbare ruimtes met hoë verkeer soos Zoo Park en UN Plaza waar daar konstante beweging deur die publiek is. 

Die meeste parke in Windhoek se woonbuurtes het nie toegewyde sekuriteitspersoneel nie, wat dit meer kwesbaar vir skade en diefstal maak.

Met verwysing na verkryging het Akwenye gesê die munisipaliteit volg ’n gereguleerde en deursigtige proses wanneer diensverskaffers aangestel word. Verskaffers se prestasie word intern gemonitor om te verseker dat hulle aan diensstandaarde voldoen.

Akwenye het enige bewering verwerp dat sekere gebiede in Windhoek doelbewus verwaarloos word. Hy het beklemtoon verskille in die toestand van munisipale parke is dikwels gekoppel aan vlakke van vandalisme en die betrokkenheid van die gemeenskap waar dit geleë is.

Akwenye het verwys na parke in sommige oostelike woonbuurte waar inwoners en buurtwaggroepe ’n aktiewe rol in die beskerming van openbare geriewe speel wat bydra tot beter instandhouding.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer