Die Usakos-dorpsraad skuld NamWater N$18 miljoen, maar su00EA sy boorgate sal die dorp van water voorsien. Foto Usakos-dorpsraad
Die Usakos-dorpsraad skuld NamWater N$18 miljoen, maar su00EA sy boorgate sal die dorp van water voorsien. Foto Usakos-dorpsraad

Usakos skuld NamWater N$18 miljoen

‘Inwoners se wanbetaling beloop N$36 m.’
Die dorpsraad moes volgens NamWater voor gister aan vier voorwaardes voldoen.
Adam Hartman

Die dorpsraad van Usakos sê sy eie boorgate sal die dorp van water voorsien, sou NamWater die watertoevoer vandeesweek na die dorp afsny. 

Dié reaksie kom te midde van die dorpsraad se skuld van N$18 miljoen aan NamWater, wat deur die dorp se uitvoerende hoof, Lesley Goreseb, aan Republikein bevestig is.

NamWater sou vanaf gister die watertoevoer na Usakos daagliks van 17:00 tot 08:00 tot Vrydag opskort. Van 28 September tot 5 Oktober sal ’n bykomende onderbreking van 12:00 tot 14:00 geld. Van 6 tot 9 Oktober sal daar geen watertoevoer wees nie. Naweke sal die toevoer met ongeveer 50% verminder word.

In ’n openbare kennisgewing wat die naweek uitgereik is, het NamWater gesê hy het geen skriftelike bevestiging van die raad ontvang waarin die voorwaardes van ’n brief gedateer 25 Augustus aanvaar word nie, “ook nie ’n alternatiewe voorstel wat ’n soortgelyke uitkoms sou bereik nie”.

NamWater se woordvoerder, Lot Ndamanomhata, het gesê die voorwaardes hou verband met onbetaalde waterrekeninge oor ’n tydperk van vyf jaar. Hy wou nie die verskuldigde bedrag bekend maak nie.

Die dorpsraad moes voor 21 September aan vier voorwaardes voldoen. Dit sluit in ’n onmiddellike betaling van ’n persentasie van die agterstallige bedrag, die volle vereffening van maandelikse fakture binne 30 dae, maandelikse betalings ter vermindering van die agterstallige skuld en ’n terugbetalingsooreenkoms wat deur ’n raadsbesluit gerugsteun word.

Ndamanomhata het gesê NamWater het sedert Junie 2024 ’n bedrag van N$232 594,63 van die raad ontvang. Die twee partye het op 5 Augustus vergader.

“Tot op hede het NamWater geen reaksie van die dorpsraad ontvang nie en ook geen verbintenis om die saak op te los nie,” het hy gesê. 

“Die verantwoordelikheid om ’n ononderbroke watertoevoer vir die Usakos-dorpsraad te verseker, berus by die Usakos-dorpsraad self, deur sy verpligtinge na te kom wat betref betaling vir water wat deur NamWater aan hom verskaf word,” het Ndamanomhata gesê. 

Goreseb het by navraag gesê die raad het op NamWater se skrywe gereageer en voorgestel die N$1,6 miljoen wat die nutsmaatskappy aan die raad vir eiendomsbelasting en heffings skuld, as ’n afbetaling verreken word.

“Ek het vir hulle gesê om die N$1,6 miljoen wat hulle aan ons skuld, te verreken,” het hy verduidelik. 

Volgens Goreseb het NamWater verlede week gereageer en gesê die raad moet 30% van die N$18 miljoen betaal, en dat die watervoorsiener gister met die opskorting van dienste sou voortgaan. Hy het gesê dit is vir die raad “werklik onmoontlik” om die bedrag te betaal.

Volgens Goreseb skuld inwoners die raad N$36 miljoen vir water.

“Inwoners betaal nie. Jy kan nie die toevoer afsny nie. Die skuld neem net toe,” het hy gesê.

NamWater voorsien water in grootmaat aan die raad, wat dit dan aan huishoudings versprei, volgens Ndamanomhata.

“Indien spesifieke huishoudings wat wel betaal hul watertoevoer verloor, is dit ’n kwessie van verspreiding op raadsvlak, aangesien die dorpsraad verantwoordelik is vir die plaaslike verspreidingsnetwerk,” het hy gesê.

Ndamanomhata het gesê die vraag moet aan die raad gestel word waarom die dorpsraad inwoners se betalings vir dienste en belasting, insluitend water, nie aan NamWater oorbetaal het nie.

Die raad, het volgens Goreseb, vier boorgate geboor en twee reservoirs gebou sedert hy twee jaar gelede die amp aanvaar het.

“Dit beteken dat as NamWater hul watertoevoer afsny, ons steeds water aan die inwoners sal kan verskaf,” het hy gesê.

“Hulle kan maar voortgaan. Ek sê dit met volle vertroue,” het Goreseb gesê. 

Die raad is ook besig om 800 voorafbetaalde watermeters te installeer.

Goreseb het gesê waterbeperkings in die informele nedersettings Hakhaseb en Erongosig hou nie met die skuld verband nie. 

“Die waterbeperking is nie deur ons skuld veroorsaak nie. Dit is deur hulle [NamWater se] toerusting veroorsaak,” het hy gesê.

NamWater het gesê hulle sal tydens die opskorting van watertoevoer watertenkwaens en opgaarhouers by tronke, skole en hospitale beskikbaar stel. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer