Uraanontginning vs. drinkwater

Stampriet-akwifer onder die loep
'n Plaaslike kenner het gewaarsku dat die hidro-geologiese kompleksiteit van die Stampriet-stelsel geen kanse vir foute toelaat nie.
Frank Steffen
Headspring Investments, wat van voorneme is om uraan uit die Stampriet-akwifer te onttrek deur middel van in situ-loging, verwelkom die steun van sommige Namibiese politici.

Tot dusver het dié Rosatom-filiaal geen kritiek of teenstrydige sienings in ag geneem nie en ignoreer wetenskaplike argumente, maar glo ’n “feitelike en wetenskaplik-gebaseerde dialoog” is noodsaaklik.

“Headspring Investments, ’n maatskappy van die Uranium One-groep, is verbind tot die verantwoordelike en volhoubare ontwikkeling van die voorgestelde uraanprojek naby Leonardville.

“Ons erken die bekommernisse en besprekings rondom ons projek en glo ’n oop, feitelike en wetenskaplik-gebaseerde dialoog is noodsaaklik vir die toekoms van die Omahekestreek en Namibië.”

Só het Kirill Egorov-Kirillov, die direkteur van Headspring, in ’n mediaverklaring geskryf wat vandeesweek deur sy woordvoerder, Riaan van Rooyen, vrygestel is.

Die verklaring volg op kommentaar deur Tobie Aupindi, die voorsitter van die parlementêre staande komitee oor natuurlike hulpbronne, wat betreur het dat die Russiese projek, gekoppel aan Rosatom deur Uranium One, na bewering deur staatsamptenare vertraag word, eerder as om ’n duidelike besluit te neem.

Aupindi het glo voorgestel Headspring moet toegelaat word om voort te gaan, gegewe die feit dat die projek moontlik 500 werksgeleenthede sou skep.

In die proses het hy blykbaar die duisende mense wat reeds in landbou en toerisme werksaam is oor die hoof gesien – sektore wat in gevaar is as die projek ’n negatiewe impak op die waterbronne in die gebied het. Dus blyk die “feitelike en wetenskaplik-gebaseerde dialoog” om geen waarde te dra nie.

ISL-METODE EN -STANDAARDE

In situ-loging (ISL) behels die inspuiting van ’n chemiese vloeistof tot binne die ertsliggaam om ondergrondse uraan vry te stel. Die oplossing word weer uitgepomp voor die uraan in ’n aanleg verwerk word en die vloeistof weer tot binne die ertsliggaam gepomp word.

ISL se hoofvoordele is minimale oppervlakversteuring en geen uitskot nie, wat dit ’n voorkeuropsie maak waar geologie dit toelaat (sien https://q.my.na/56JK).

Beide die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) en die Wêreldkernkragvereniging (WNA) beklemtoon egter dat omgewingsimpakstudies (EIA’s) deur onafhanklike, gekwalifiseerde kundiges opgestel moet word.

Van die voorwaardes sluit in deurlaatbare maar hidroulies ingeslote ertsliggaam, betroubare boorgatomhulsels, streng monitering en die vermoë om grondwaterchemie ná onttrekking te herstel. Afgesien van die feit dat die neerslag in die Stampriet-akwifer nie hermeties (so dig dat niks, veral geen lug of vog, dit kan deurdring nie) verseël is nie, blyk dit nie of die eksplorasie in Namibië tot dusver aan hierdie standaarde voldoen het nie.

BRAKWATER TEENOOR DRINKWATER

Die WNA merk op dat ISL dikwels in akwifers gebruik word waar die water reeds brak is of nie geskik is om te drink nie, soos in Kazakstan.

In sulke gevalle veroorsaak die oorblyfsels van die chemiese vloeistof minder bykomende skade, die reguleerders aanvaar die “herinspuiting” van brakwater en is operasionele chemie meer hanteerbaar.

Tegniese literatuur, insluitend die IAEA se kernenergiereeks (Nr. NF-T-1.4), behandel hoë-soutinhoud-akwifers as ’n laer risiko.

In teenstelling hiermee beklemtoon verslae van die IAEA en die Amerikaanse Nasionale Sentrum vir Biotegnologie-inligting (NCBI) dat akwifers soos Namibië se Stampriet-akwifer drinkwater verskaf en landbou ondersteun. Enige storting of onvoldoende herstel kan menslike en ekologiese gesondheid onomkeerbaar bedreig.

KUNDIGE MENINGS

Selfs goed bestuurde ISL produseer afvalstrome wat metale, soute en chemikalieë bevat. Migrasierisiko’s duur voort waar hidro-geologiese inperkings onvoldoende is.

Die Amerikaanse geoloog dr. Hannan LaGarry het in ’n kundige mening oor ISL naby Marsland, Nebraska – ’n akwifer vergelykbaar met Stampriet – tot hierdie gevolgtrekking gekom: “Gebaseer op die argumente hierbo, is dit my kundige mening dat ISL-mynbou in die Marsland, Nebraska-gebied, nie toegelaat moet word nie. Van die grootste kommer is die nabyheid aan die Niobrararivier (’n rivier van nasionale belang), wat elke jaar deur duisende mense vir ontspanning gebruik word.

“As die High Plains-akwifer besoedel sou raak, sal die gevolge onomkeerbaar en katastrofies wees vir die plaaslike landbou-ekonomie. Dit sal waarskynlik tot die ontvolking van die streek lei.”

Namibië se kenner dr. Roy Miller, afgetrede direkteur van die Geologiese Opmetingsdiens by Namibië se ministerie van myne en energie, het eweneens gewaarsku dat die hidro-geologiese kompleksiteit van die Stampriet-stelsel geen kanse vir foute toelaat nie.

Die kanse vir in situ-loging om foutloos uitgevoer te word, is feitlik onmoontlik en daarom beklemtoon beide die IAEA en die WNA dat drinkbare akwifers nooit in gevaar gestel mag word nie, terwyl brak-, diep en beperkte akwifers gedeeltelik gebruik kan word onder streng regulering en monitering.

‘POLITIEKE SKRIF AAN DIE MUUR’

Soos onlangs in die media berig is, is onafhanklike bevestiging van verhoogde bestraling rondom die eksplorasiegebied reeds opgemerk, wat die gemeenskap se sensitiwiteit vir veranderinge in grondwater- of bestralingsvlakke beklemtoon.

Sulke afwykings kan sterk openbare teenkanting en politieke gevolge uitlok, soos in die verlede gesien is met langdurige gesondheidsvrese rondom die uraanmyne naby Swakopmund.

Vir Stampriet is die risiko selfs hoër: Gemeenskappe maak direk op hierdie skoon waterbron vir drinkwater en besproeiing staat. Teenkanting teen die ontginning is reeds aangeteken onder die Vereniging vir Uraanmynbou in die Stampriet-akwifer (Sauma), wat deur boere en die gemeenskap ondersteun word.

As die projek skeefloop, is die politieke skrif aan die muur, met die Landless People’s Movement (LPM) wat heel waarskynlik Namibië se regerende party, Swapo, die stryd sal aansê in ’n gebied waar inwoners reeds beweer dat die regering nie na hulle luister nie.

Die waarde van die Stampriet-akwifer as ’n suiwer waterbron maak ISL ’n onvanpaste en hoërisiko-keuse.

Voorts kan standaard-voorsorgmaatreëls en regstellende planne nie beskerming teen onomkeerbare besoedeling waarborg nie – ’n risiko wat gemeenskappe en kenners aanvoer Namibië nie kan bekostig nie.

Kommentaar

Republikein 2025-09-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer