Unam hof toe gesleep vir N$35 miljard

Medisinale uitvinding glo gesteel
Michael Nenkavu en Benedictus Nashenda beweer hulle het 'n medisinale formule geskep om kanker, diabetes, hoë bloeddruk, cholesterol en septiese wonde te behandel, wat hulle aan Unam voorgelê het vir wetenskaplike toetsing.
Rita Kakelo
Twee Namibiese mans het die Universiteit van Namibië (Unam) na die hoërhof gesleep en beweer dat die instelling hul ­medisinale uitvinding gesteel en verliese van N$35 miljard oor 14 jaar veroorsaak het.



Die regsgeding, wat aanhangig gemaak is deur Michael Nenkavu en Benedictus Nashenda, noem ook die voormalige president en Unam-­kanselier, Nangolo Mbumba, en die visekanselier, Kenneth Matengu, as respondente.



Die twee beweer hulle het ’n poeier­agtige medisinale formule geskep om kanker, diabetes, hoë bloeddruk, ­cholesterol en septiese wonde te ­behandel, wat hulle aan Unam voorgelê het vir wetenskaplike toetsing. In plaas daarvan, beweer hulle, het die universiteit probeer om hul ­uitvinding in die geheim te ­patenteer, kritieke toetsresultate teruggehou en die vrystelling van N$210 000 geblokkeer wat aan hul ­maatskappy, ­Katakura Company CC, behoort.



Volgens hul pleitstukke het hierdie beweerde sabotasie ’n ­potensiële ­belegging van N$1 miljard van China se Beijing-kankerhospitaal, wat ­gesertifiseerde verslae vereis het voordat hulle tot die transaksie sou verbind, gekelder.



Nenkavu en Nashenda beskuldig Unam van patentskending, skending van vertroulikheid, wanbesteding van intellektuele eiendom, skade aan hul reputasie en doelbewuste ­sabotasie. Hulle voer verder aan die teruggehoue resultate en vertraagde ­prosesse het hul toegang tot beide plaaslike en internasionale farmaseutiese markte ontsê.



‘VERLIESE’ UITEENGESIT



“Die belegging was uitdruklik ­voorwaardelik daarop dat ­Katakura Company die belegger van weten­skap­like verslae van die Beijing-­kankerhospitaal en -akademie sou voorsien,” lui hul hofstukke.



In hul hofdokumente het Nenkavu en Nashenda die jaar-tot-jaar-­verliese uiteengesit wat hulle beweer uit Unam se gedrag voortspruit.



Hulle beweer hulle het in 2011 alleen N$1 miljard verloor toe ’n gesamentlike onderneming met ’n Chinese ­belegger in duie gestort het, omdat hulle nie die vereiste gesertifiseerde verslae kon verskaf nie. Die volgende jaar, in 2012, het hulle na bewering fundamentele navorsingsfinansiering en vroeë kommersialiseringsvennootskappe misgeloop, wat glo ’n bykomende verlies van N$1,5 miljard tot gevolg gehad het.



In 2013 het vertragings in plaaslike regulatoriese ondersteuning vir formuleringsgoedkeuring, wat hulle blameer op geblokkeerde data, hulle glo ’n verdere N$1 miljard gekos.



Hul eis duur voort tot in 2014, waar hulle sê dat die blokkering van toegang tot laboratoriumtoetsresultate vir internasionale voorleggings skade van N$1 miljard veroorsaak het. In 2015 het skade aan beleggersvertroue as gevolg van onopgeloste intellektuele eiendomsregte na bewering tot nog N$2 miljard in verliese gely.



Die jaar 2016 het glo verdere ­terugslae gebring, met ­geblokkeerde toegang tot farmaseutiese netwerke wat hulle na bewering N$1,5 miljard gekos het. In 2017 het hulle glo ­verliese van N$2 miljard beraam as gevolg van lisensiëringsgeleent­hede in die mediese verkrygingsmarkte in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC)-streek wat hulle na bewering misgeloop het.



Teen 2018 het die beweerde skade glo toegeneem, met Nenkavu en Nashenda wat beweer hulle het N$5 miljard in kommersiële lisensië­ringsgeleenthede plaaslik en in die buiteland verloor.



In 2019 sê hulle reputasieskade weens die wanaanwending van hul werk, het nog N$2 miljard in skade bygevoeg. Die finansiële tol het glo tot in 2020 voortgeduur, met die duo wat na bewering N$3,5 miljard aan navorsings- en ­ontwikkelingsbefondsing verloor het.



Die beweerde misbruik van hul formulering in 2021 het hulle glo N$4,4 miljard gekos, terwyl hulle in 2022 wys op N$6 miljard wat verlore gegaan het as gevolg van vertraagde internasionale patentuitbreidings.



In 2023 beraam hulle hul skade op N$5,5 miljard weens verlore mediese vennootskappe. In 2024 beweer hulle N$2,5 miljard het verlore gegaan deur skade aan hul reputasie en emosionele lyding, terwyl hulle in 2025 ’n verdere N$500 miljoen in verlore ­toekomstige inkomste beraam.



Nenkavu en Nashenda sê hierdie ­kumulatiewe verliese beloop ­altesaam N$35 miljard. Hulle voer aan dat Unam se optrede hulle sonder wetenskaplike geloofwaardigheid, ­beleggersteun of marktoegang gelaat het, ten spyte van wat hulle beskryf as die formule se “baanbrekers­potensiaal”.



Unam het aan Network Media Hub (NMH) gesê die instelling kan nie reageer op die vrae wat geopper is nie, aangesien die dagvaarding nog nie amptelik aan Unam beteken is nie.



Die universiteit het bygevoeg hul standpunt, sodra die dagvaarding beteken is, sal in die pleitstukke ­uiteengesit word, indien nodig.



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer