Ná baie jare is standbeelde van verskeie prominente vryheidsvegters wat op Robbeneiland gevange ­gehou is, Saterdag seremonieel onthul. Onder hulle was wyle Andimba Toivo ya Toivo wie se vrou Vicky Erenstein ya Toivo (links) die seremonie bygewoon het. Foto Facebook/Umbi Karuaihe-Upi
Ná baie jare is standbeelde van verskeie prominente vryheidsvegters wat op Robbeneiland gevange ­gehou is, Saterdag seremonieel onthul. Onder hulle was wyle Andimba Toivo ya Toivo wie se vrou Vicky Erenstein ya Toivo (links) die seremonie bygewoon het. Foto Facebook/Umbi Karuaihe-Upi

Toivo ya Toivo staan op Robbeneiland

Brigitte Weidlich
’n Standbeeld van die Namibiese vryheidsvegter, aktivis, politikus en politieke gevangene Andimba Toivo ya Toivo is Saterdag tydens ’n amptelike seremonie op Robbeneiland onthul saam met nog vyf ander van voormalige Suid-Afrikaanse politieke gevangenes wat ook hier aangehou is. Dit sluit ’n standbeeld van oudpresident Nelson Mandela in. ’n Namibiese afvaardiging wat die Speaker van die parlement Saara Kuugongelwa-Amadhila, die minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Sanet Steenkamp en van die nege oorlewende Namibiese gevangenes soos die voormalige minister van sport, jeug en nasionale diens, Jerry Ekandjo, ingesluit het, het die onthullingseremonie bygewoon.

Gedenkmedaljes is ook toegeken aan die voormalige gevangenes van Robbeneiland en die name van al 5 000 politieke gevangenes wat oor die jare op die eiland gevange gehou is, is voorgelees.

Steenkamp het ’n boodskap namens president Netumbo Nandi-Ndaitwah voorgelees waarin sy Toivo Ya Toivo se standbeeld beskryf het as ’n huldeblyk aan sy persoonlike opoffering en die gedeelde stryd van elkeen wat op die eiland gevange gehou is.

“Robbeneiland was meer as net ’n tronk. Dit was ’n skool van veerkragtigheid, ’n bastion van beginsels en ’n baken van hoop vir onderdrukte groepe in Suider-Afrika,” het sy gesê. Steenkamp het beklemtoon dat die standbeeld ’n blywende herinnering is aan die gedeelde geskiedenis van Namibië en Suid-Afrika. In ’n verklaring verlede week het die Namibiese staatshoof hulde gebring aan voormalige Namibiese gevangenes van Robbeneiland en hul families. Volgens Nandi-Ndaitwah simboliseer Toivo ya Toivo se standbeeld sy moed en die opofferings van alle Namibiërs wat teen apartheid geveg het vir die bevryding van Namibië en Suid-Afrika.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer