Mnre. Marcus Thomas en Kevan Townsend se verhoor sal in November hervat. Foto Iréne-Mari van der Walt
Mnre. Marcus Thomas en Kevan Townsend se verhoor sal in November hervat. Foto Iréne-Mari van der Walt

Thomas ‘weet niks’ van boek

Heckmair-verhoor hervat vroeg November
'n Notaboek wat na bewe­ring in die besit van mnre. Marcus Thomas en Kevan Townsend gevind is, bevat onder meer talle verwy­sings na knaldempers.
Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

en Kristien Kruger

Die verhoor waarin twee Amerikaners, mnre. Marcus Thomas en Kevan Townsend, teregstaan vir die moord op mnr. André Heckmair, hervat begin November in die hoërhof in Windhoek.

Hoofinspekteur Felix Ndikoma het Vrydag getuig oor ’n notaboek wat op 9 Januarie 2011 in die beskuldigdes se kamer in ’n gastehuis gevind is.

Die swart A5-notaboek waarin Thomas glo geskryf het, bevat verskeie taaklysies en notas met instruksies soos “­bespreek Nami­bië-kaartjies”, “kry ­toerusting in plek” en “gaan na 376 Hudsonstraat, NY (’n paspoortbeheerkantoor in New York)”.

KNALDEMPER

In die notaboek is talle verwysings na knaldempers insluitend die vraag: “Wat is die stilste ‘wet suppressor’ [’n soort knaldemper] wat ek vir ’n Glock 9 mm kan kry?”

Vorige getuies het getuig die twee beskuldigdes was op soek na ’n 9 mm Glock-pistool, maar kon egter net ’n 7.65 mm-pistool in die hande kry – ­dieselfde soort vuurwapen waarmee Heckmair na bewering vermoor is.

Ndikoma het verder getuig dat twee geweerlope en ’n knaldemper, met die handelsmerk Brügger & Thomet, ook in die kamer gevind is. Die notaboek waaroor Ndikoma getuig het, verwys ook na hierdie handelsnaam.

Thomas het by monde van sy regsverteenwoordiger, mnr. Salomon Kanyemba, gesê hy dra geen kennis van die notaboek nie.

PAKKIE UIT HELSINKI

Ndikoma het verder getuig oor fakture wat verband hou met ’n pakkie wat Thomas na bewering etlike dae voor die moord op Heckmair uit Helsinki, Finland, ontvang het.

Hy het gesê doeanebeamptes het die inhoud van die pakkie geïdentifiseer as stukke van meubels met boute en moere.

Hoewel die inhoud van die pakkie volgens doeanebeamptes ’n tafelpoot was, was dit na bewering hoe Thomas ’n knaldemper in die land ingesmokkel het.

Op bladsy vier van die notaboek verskyn die naam van Thomas se medebeskuldigde, mnr. Kevan Townsend, asook sy kontakbesonderhede en inligting oor ’n familielid en ’n sportspan wat Townsend klaarblyklik ondersteun het.

Ndikoma het verlede week getuig dat die betrokke notaboek uit sy kantoor verdwyn het nadat die beskuldigdes vlugtig daar was om van hul besittings te kry.

Bladsye is glo ook uit die notaboek geskeur.

Hy het getuig dat hy afskrifte van die notaboek gemaak het voor dit verdwyn het.

Dié gesertifiseerde afskrifte is Vrydag as bewysstukke by die hof ingedien.

Die saak is Vrydag tot 7 November uitgestel en sal weer vanaf 14 tot 17 November voor regter Christie Liebenberg aangehoor word.

Ndikoma sal na verwagting weer die getuiebank inneem wanneer die saak hervat en staatsaanklaer Antonia Verhoef sal weer geleentheid kry om vrae te stel aangesien die verdediging sy kruisondervraging afgesluit het.

Thomas en Townsend is al vir meer as 11 jaar in aanhouding by die Windhoek Sentrale Gevangenis.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer