Ronald Windswaai Foto verskaf
Ronald Windswaai Foto verskaf

Te veel inwoners, te min kapasiteit

Aurelia Afrikaner

Rehoboth se infrastruktuur vir die dorp se afvalwater is onder toenemende druk. 

Die dorp se bestaande oksidasie-aanleg is vir ongeveer 17 000 inwoners ontwerp, terwyl Rehoboth se bevolking meer as verdubbel het en beraam word op tussen 42 000 en 47 000. 

Die benarde situasie is deur die uitvoerende hoof van die dorpsraad, Ronald Windswaai, as deel van raad se vooruitskouingsverslag vir Augustus geskets. 

Volgens Windswaai is ’n voorlopige omgewingsassessering vir ’n verwerkingsaanleg vir afvalwater onderweg omdat die bestaande oksidasie-aanleg nie meer die reuselas van die huidige inwonerstal kan dra nie. 

“As ek reg is, staan ​​ons op tussen 42 000 en 47 000 inwoners,” het Windswaai geskat. 

Volgens hom is die bestaande verwerkingsaanleg gebou om sowat 17 000 inwoners te kan dra en is gevolglik nie meer voldoende vir die meer as 40 000 inwoners nie. 

Die raad het tussen N$10 miljoen en N$14 miljoen bestee om die aanleg op te gradeer. Ten spyte hiervan het Windswaai gesê dit het nie die aanleg voldoende gehelp om die vereiste kapasiteit te hanteer nie. 

Die behandelingsaanleg vir afvalwater word onder die raad se spesiale projekte gelys, saam met inisiatiewe soos die program vir die teer van paaie op die dorp, asook die digitalisering van dienste. 

Die raad se strategiese verslag identifiseer die behandelingsaanleg as deel van sy pogings om huidige uitdagings met betrekking tot infrastruktuur en dienslewering op die dorp aan aan te pak. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer