Swakop se A-huisies dalk gesloop
Swakopmund se eens ikoniese munisipale ruskamp, die hoogtepunt van ’n vakansieseisoen vir menigte Namibiërs en besoekers aan dié gewilde vakansiedorp, is nou die middelpunt van ’n grootskaalse debat.
Met die rekening vir opknappings- en herstelbehoeftes wat reeds by die N$90 miljoen draai, wik en weeg die munisipaliteit of hulle die 200 eenhede moet behou, verkoop of herontwikkel.
Die verouderde eenhede is lankal nie in pas met moderne veiligheids- en toerismestandaarde nie.
Die ruskamp, wat bekostigbare vakansieverblyf aan die kus aan talle Namibiese gesinne en besoekers gebied het, het so vervalle geraak dat dit nou ’n strukturele en bedryfsrisiko inhou.
’n Volledige ingenieursverslag wat in Maart aan die raad voorgelê is, het ernstige probleme met infrastruktuur, waterskade en verouderde elektriese stelsels uitgewys.
“Die geriewe is oud, afgeleef en kom uit ’n ander era,” het die hoofbestuurder vir ingenieurs- en beplanningsdienste, Clarence McClune, in die verslag geskryf.
“Dit [herstelwerk] kan net gedoen word as die koste van opknappingswerk vergelyk word met potensiële (realistiese) inkomstevooruitskattings,” het hy gesê.
Die interne verslag, wat in Desember 2024 op versoek van die raad saamgestel is, het die ruskamp in sewe sones verdeel en die strukturele integriteit van elke eenheid beoordeel. Die bevindinge toon uitgebreide agteruitgang. In sommige gevalle word voorgestel dat die Spitzkoppe-rondawels (die gewilde dubbelverdieping A-raam-huise) heeltemal gesloop word.
Die rondawels, eens bekend vir hul houtraam en solderkamers, word nou gekenmerk deur gekraakte mure, fondasies wat sak en waterlekkasies.
Benewens strukturele probleme, is daar ook onmiddellike brand- en openbare gesondheidsrisiko’s.
“Almal het eksterne kragverspreidingsborde sonder enige bedekking. Dis baie kommerwekkend en kan tot brande lei,” het McClune gewaarsku.
Ander eenhede het weer asbesdakplate wat deur gespesialiseerde kontrakteurs verwyder moet word. Die totale koste om die ruskamp tot ’n funksionerende toestand te herstel en op te knap, word op sowat N$90 miljoen geraam.
Die finansiële lewensvatbaarheid van die instandhouding van die ruskamp word ook bevraagteken.
In ’n parallelle oorsig het die departement van ekonomiese ontwikkelingsdienste bevind dat meer as die helfte van die kamp se begroting in 2022-’23 aan personeel se salarisse bestee is, met net 9% wat vir die instandhouding van infrastruktuur gebruik is.
“Die begroting is nie genoeg nie en ondersteun nie voldoende die raad se pogings om die ruskamp te verbeter nie,” lui die verslag.
Drie hoofopsies is vir oorweging voorgelê, naamlik die verkoop van die hele ruskamp aan ’n private operateur; die gedeeltelike verkoop van eenhede wat nie na wense funksioneer nie; of ’n openbare-private-vennootskap (PPP) soortgelyk aan dié van Namibia Wildlife Resorts (NWR) se Daan Viljoen-ooreenkoms. Die PPP-model, ondersteun deur nasionale finansieringstrukture, maak voorsiening vir die rehabilitasie, bedryf en latere oordrag terug na die raad.
Tydens ’n spesiale bestuurskomiteevergadering in Mei het raadslede egter bykomende alternatiewe voorgestel. Dit sluit in dat die geriewe hergebruik word as studentebehuising of dat die eenhede eerder verhuur as verkoop word.
Die komitee het uiteindelik ooreengekom dat die raad die munisipale ruskamp as ’n munisipale bate behou, terwyl enige verkoop of oordrag na derde partye verbied word. Die opgradering van die eenhede in fases is ook voorgestel, met die Fish- en Welwitschia-eenhede wat eerste aan die beurt kom. Ten spyte van bogenoemde resolusie, het die ingenieursdepartement gemaan teen geringe ingrypings.
“’n Gefaseerde benadering word nie aanbeveel nie. Die resultaat sal waarskynlik nie veel van die huidige toestand verskil nie,” het McClune gesê.
“Die fokus moet op grootskaalse veranderinge wees wat meer gaste die hele jaar lok.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie