Streekrade kap terug oor ouditbevindings

Blaam voor die deur van voorgangers geplaas
Die munisipale rade van Okahandja en Keetmanshoop het kapsie gemaak teen onlangse berigte oor die ouditeur-generaal se ouditverslae.
Elizabeth Kheibes
Die voorsitters van die munisipale rade van Keetmanshoop en Okahandja het beswaar gemaak teen onlangse mediaberigte wat gebaseer is op die bevindinge van die ouditeur-generaal rakende miljoene wat vermis word.

Volgens hulle moet die blaam vir die wanbestuur voor die deur van hul voorgangers geplaas word. Hulle dring ook aan op verantwoordbaarheid.

Op Keetmanshoop het burgemeester Annelize Knouwds en die voorsitter van die bestuurskomitee, Easter Isaaks, berigte ontken dat die munisipaliteit verliese van N$77 miljoen oor die afgelope drie jaar gely het.

“Hierdie stellings gee ongelukkig ’n verkeerde voorstelling van die finansiële feite,” het Knouwds gesê.

“Dit is belangrik dat die publiek akkurate en kontekstuele inligting ontvang wat van toepassing is.”

Volgens die burgemeester weerspieël die N$77 miljoen ’n opgehoopte historiese tekort sedert die munisipaliteit se ontstaan – nie onlangse verliese nie.

“Vir die boekjaar wat op 30 Junie 2021 geëindig het, het die munisipaliteit ’n totale inkomste van N$201,3 miljoen gegenereer, met totale uitgawes van N$177,4 miljoen, wat ’n bruto surplus van N$23,8 miljoen tot gevolg gehad het,” het sy verduidelik.

Die raad het bygevoeg die munisipaliteit se tekort ná beleggingsinkomste en skuldaanpassings in die 2020-’21-boekjaar was slegs N$964.

Isaaks het die media se beriggewing as misleidend en polities gemotiveerd gekritiseer en vorige rade onder Swapo se beheer van finansiële wanbestuur beskuldig.

“Tussen 2016 en 2021 het ouditverslae ongunstige menings gelewer. Altesaam N$16,9 miljoen vir die Build Together-program kon nie rekenskap voor gegee word nie en 283 rekeninge kon nie gerekonsilieer word nie,” het hy gesê.

Die Landless People’s Movement (LPM)-raad wat sedert 2021 aan stuur van sake is, sê hy het maatreëls in plek gestel, insluitend ’n personeelopleidingsprogram van N$1,4 miljoen om die raamwerk vir internasionale openbare sektor rekeningkundige standaarde (IPSAS) te implementeer.

Isaaks het ook sistemiese mislukkings onder vorige rade aangehaal, insluitend oordrewe verkrygingswaardes, spookhandtekeninge op munisipale bankrekeninge en die misbruik van behuisingsfondse.

“Hierdie raad het moratoriums geplaas, interne oudits uitgevoer en bedrywighede herstruktureer om bestuur te herstel,” het hy gesê.

Isaaks het ook gevra dat diegene wat verantwoordelik vir die geouditeerde tydperke is voor die komitee verantwoordelik vir openbare rekeninge gedaag word.

OKAHANDJA

Op Okahandja het onderburgemeester Akser Aupindi gereageer op berigte van terugbetalings van N$10 miljoen aan die tesourie: “Geen van die raadslede is bewus hiervan nie. Die skade is reeds deur ons voorgangers aangerig.”

Hy het bygevoeg die huidige leierskap, wat sedert 2021 in beheer is, moet op grond van hul eie prestasie beoordeel word.

“Dit is nie om blaam te verskuif nie. Dis die werklikheid. Ek sal in ’n beter posisie wees om my gemeenskap in die gesig te staar sodra die 2021-’22-ouditverslag vrygestel word,” het Aupindi gesê.

Beide munisipaliteite het die media genooi om dokumentasie en ouditrekords te hersien om gebalanseerde verslaggewing te verseker.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer