Spoedvrate vanjaar in hul spore gestuit
Een van die wêreld se gesogste spoedseilgeleenthede, die Lüderitz Speed Challenge, se vlerke is vanjaar geknip.
Dit nadat organiseerders die byeenkoms weens ’n gebrek aan befondsing gekanselleer het.
Dié byeenkoms lok elke jaar wêreldklas topseilplankryers na dié hawedorp.
Die organiseerder van die byeenkoms, Raffaello Gardelli, het in Mei aan SURF Magazin gesê stygende koste het die byeenkoms finansieel onvolhoubaar gemaak.
“Dit is eenvoudig nie finansieel haalbaar nie. Al die pryse is dubbel vanjaar,” het hy gesê.
Ten spyte van die kansellasie beoog die organiseerders om die byeenkoms in 2027 te laat herleef.
“Ons kyk na wat ons vir volgende jaar kan doen. Sommige deelnemers, soos Gunnar Asmussen en Antoine Albeau, help ons sodat ons dit weer aan die gang kan kry,” het Gardelli gesê.
Die mensgemaakte kanaal wat vir die kompetisie gebruik word, word deur borgskappe en deelnemers se inskrywingsgelde gefinansier.
Gardelli het gesê die konstruksie en voorbereiding van die kanaal van 800 meter – insluitend die wegspring- en stopsones rondom die amptelike 500 m-baan van die World Sailing Speed Record Council (WSSRC) – kos tussen N$2 816 460 (150 000 euro) en N$3 191 988 (170 000 euro).
“Ons sal eenvoudig nie hierdie geld kan insamel nie, omdat daar te min borge is,” het hy gesê.
Die voorbereiding van die kanaal verg maande se werk deur plaaslike arbeiders, wat sand verwyder, die kanaal se walle versterk en die kanaal se vorm herstruktureer. Seewater moet ook gedreineer en terug in die kanaal gepomp word voordat die kompetisie begin.
Die kansellasie sal na verwagting ’n ekonomiese impak op Lüderitz hê, waar die byeenkoms deelnemers, ondersteuningspanne en besoekers van oraloor die wêreld lok.
Lüderitz se burgemeester, Brigitte Fredericks, het die kansellasie as ’n reuseverlies vir die dorp beskryf.
“Die aankondiging het as ’n skok gekom en sal ’n negatiewe uitwerking op ons dorp se ekonomie hê.
“Plaaslike inwoners, besighede, restaurante en verblyfplekke het almal by die toestroming van internasionale deelnemers gebaat.
“Die geleentheid het Lüderitz op die kaart geplaas en ons wil beslis hê dit moet volgende jaar terugkeer,” het Fredericks gesê.
“Dit is hartseer. Ons hande is afgekap en die aankondiging raak Lüderitz as geheel. Ons was een van die grootste borge van die Speed Challenge en het die inisiatief ondersteun weens die waarde daarvan en die wêreldwye aandag wat dit op ons hawedorp vestig.
“Ons het die hooforganiseerders gehuisves, terwyl die res van die deelnemers by verblyfplekke oraloor die dorp tuisgegaan het,” het Daniella Grünewald, die waarnemende hoofbestuurder van die Lüderitz Nest Hotel, gesê.
“Hierdie byeenkoms was ’n hoogtepunt van ons kalenderjaar. Dit lok ongelooflike atlete van oraloor die wêreld na ons klein uithoekie van die wêreld, en die inspuiting in ons klein ekonomie het so ’n tasbare verskil gemaak in die lewens van soveel verdienstelike en sukkelende plaaslike inwoners.
“Ons sien met groot afwagting uit na volgende jaar,” het Phillipus Balhao, ’n inwoner van die dorp, gesê.
Die heel eerste Lüderitz Speed Challenge is in 2007 by die tweede strandmeer buite die dorp gehou, totdat die besluit geneem is om ’n kanaal te grawe. Die kanaal word elke jaar voor die seilplank- en sweefskiryers uit alle uithoeke van die wêreld op Lüderitz neerdaal, geskraap en herstel sodat die deelnemers die sowat een kilometer lange kanaal teen ’n hoë spoed kan afseil.
Buiten dié kanaal waar seilplankry en sweefski elke jaar vir ses weke plaasvind, is daar nog een mensgemaakte kanaal vir dié sport. Dit is die Sainte Marie de la Mer-kanaal in Frankryk, wat ook The Canal genoem word.
Die Lüderitz Speed Challenge het oor die jare internasionale erkenning verwerf, met meer as 100 nasionale en 19 wêreldrekords in spoedseil wat op die kanaal opgestel is. Die prestasies is ook in verskeie uitgawes van Guinness World Records erken.
Een van die byeenkoms se deurslaggewende oomblikke was op 3 Oktober 2008 toe die Franse sweefskiryer Sébastien Cattelan die eerste atleet geword het om vinniger as 50 knope te seil. Hy het ’n spoed van 50,26 knope (93,08 km/h) aangeteken.
Bykomende bron: SURF Magazin


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie