Skuld verlam bejaardes
Bejaarde inwoners van Kalkfeld het gevra vir die dringende verligting van hul munisipale skuld; sommige skuld tussen N$20 000 en N$36 000 – in ’n dorp waar wydverspreide armoede voorkom.
Die voorsitter van die Khaibasen-groep vir bejaardes, Walter Khaob, het Woensdag tydens ’n vergadering op Kalkfeld gesê die pensioenarisse het sonder sukses probeer om met die nedersettingskantoor oor hul uitstaande rekeninge te skakel.
Onder diegene wat geraak word, is Libertine Popas (76), wat meer as N$21 000 skuld, en Fransina Hoeses (61), wat N$35 000 skuld.
Volgens Popas het talle bejaarde inwoners min of geen inkomste nie en kan hulle nie die vervoerkoste na en van die kantoor bekostig om die saak te probeer beredder nie.
Sy het gesê die groep het amptenare gevra om die nedersetting te besoek, daar het egter dadels van gekom.
Popas het gesê inwoners vind dit moeilik om ’n munisipale heffing van N$400 te bekostig te midde van beperkte werksgeleenthede in Kalkfeld.
Khoaob het gesê die groep is bekommerd dat bejaarde inwoners aan hul eie lot oorgelaat word om skuld te hanteer wat hulle nie kan bekostig om te vereffen nie.
Die kommer kom te midde van druk van die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa, om moontlik munisipale skuld vir pensioenarisse en mense met gestremdhede af te skryf.
SITUASIE BENARD
Paulus Nekundi, raadslid vir die Otjiwarongo-kiesafdeling, het gesê die owerhede is bewus van die uitdagings waarmee Kalkfeld se pensioenarisse en inwoners te kampe het.
Nekundi het verlede week aan Republikein gesê die nedersettingskantoor het opdrag gekry om saam met die komitee vir nedersettingsontwikkeling te werk om bejaarde inwoners te identifiseer wat nie hul skuld kan vereffen nie.
Die betrokke gevalle kan dan na die raad gestuur word vir oorweging en moontlike aanbeveling aan die minister om die skuld af te skryf.
“Dit is baie uitdagend en weens die inkomste daar is dit regtig nie maklik nie,” het Nekundi erken.
Volgens hom bied die raad leiding aan inwoners oor die betaling van water en die opsporing van lekkasies, maar historiese skuld bly steeds ’n probleem.
Nekundi het gesê die streekraad se enkele rekening vir sy nege nedersettings beteken dat wanbetaling al die inwoners raak.
Republikein het in Mei berig die Otjozondjupa-streekraad het NamWater toe N$31,7 miljoen geskuld, wat tot herhaaldelike wateronderbrekings ook op Kalkfeld gelei het.
Die streekraad het vroeër gesê dit het ’n enkele grootmaat-waterrekening wat al sy nedersettings dek. Dit beteken inwoners wat hul individuele rekeninge betaal, steeds geraak kan word wanneer die streekraad se rekening agterstallig raak.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie