Sankwasa: Dorpsrade moet uitvoerende hoofde aanstel

Tientalle is steeds leierloos
Die minister het gesê rade wat die aanstelling van 'n uitvoerende hoof vir maande of jare uitstel, is rede tot kommer.
Phillipus Josef
Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa, het dorpsrade versoek om vinnig teen die groeiende aantal plaaslike owerhede op te tree wat sonder uitvoerende hoofde funksioneer.

“Verlede jaar was ’n jaar van verkiesings. Daar is sekere dinge wat jy uitstel tot die regte tyd,” het hy Maandag gesê.

“En dit is selfs reg dat as 16 plaaslike owerhede tot nou toe nie uitvoerende hoofde het nie, die huidige plaaslike owerheid hul eie uitvoerende hoofde sal aanstel,” het Sankwasa aan Network Media Hub (NMH) tydens ’n onderhoud op Rundu gesê.

Die opmerkings beklemtoon ’n leierskapsvakuum wat steeds in munisipaliteite en dorpsrade bestaan, wat bestuur en dienslewering belemmer.

Die Wet op Plaaslike Owerhede van 1992 plaas uitvoerende hoofde aan die kern van munisipale bedrywighede, met die plig om raadsbesluite uit te voer, personeel te bestuur en administratiewe kontinuïteit te verseker. Tale dorpsrade funksioneer egter al maande, en in sommige gevalle jare, sonder substantiewe leiers.

LEIERSKAPVAKUUM

Op dorpe soos Grootfontein en Hentiesbaai is substantiewe uitvoerende hoofde vir lang tye afwesig, met waarnemende aanstellings en langdurige dissiplinêre prosesse wat permanente aanstellings vertraag.

Op Hentiesbaai is die voormalige uitvoerende hoof, Elizabeth Coetzee, onder meer aan die einde van 2023 geskors en sy was byna twee jaar lank nie by die werk nie voordat haar kontrak in Julie 2025 verstryk het. Dit sonder dat ’n oplossing gevind is.

Haar langdurige skorsing het openbare verontwaardiging en regsdreigemente tot gevolg gehad.

In ’n NMH-berig verlede jaar het die ministerie die Nkurenkuru-dorpsraad opdrag gegee om sy werwingsproses vir ’n nuwe uitvoerende hoof tot verdere kennisgewing te staak.

Die opdrag, wat deur die woordvoerder van die dorpsraad, Saara Muushongo, bevestig is, volg op skuif van die voormalige uitvoerende hoof, Petrus Sindimba, na die ministerie. Hy het verlede week amptelik sy nuwe pos by die ministerie ingeneem.

Sindimba was Nkurenkuru se stigter- uitvoerende hoof en het 18 jaar lank in daardie hoedanigheid gedien, waar hy toesig gehou het oor die dorp se groei en administratiewe ontwikkeling sedert die proklamasie daarvan in 2006.

Die besluit om die werwingsproses op te skort, was na bewering gekoppel aan die plaaslike owerhede- en streekraadsverkiesings wat vir 26 November verlede jaar geskeduleer was.

KRY HUIS IN ORDE

Sankwasa het gewys op vorige praktyke waar die aanstellings van uitvoerende hoofde deur politieke verbintenisse eerder as meriete beïnvloed is.

“Voorheen, met die vorige rade, is uitvoerende hoofde op grond van politiek en politieke affiliasies aangestel,” het hy gesê.

“Ek het dus al situasies gesien waar mense baie goed presteer in onderhoude, maar omdat hulle nie aan die party behoort wat in beheer is van daardie plaaslike owerheid nie, word hulle nie aangestel nie.”

Die leierskapskrisis het afgespeel te midde van uitgebreide spanning tussen die ministerie en plaaslike dorpsrade.

Op Katima Mulilo het Sankwasa die dorpsraad in Augustus 2025 ontbind nadat die raad nie ministeriële opdragte geïmplementeer het nie.

Die besluit het ’n smeulende regeringstryd op munisipale vlak onthul en die gemeenskap in onsekerheid oor administratiewe leierskap gedompel.

Vir Sankwasa is die venster vir geen optrede gesluit. Hy het gesê na raadslede se induksie en opleiding, dorpsrade moet weet wat van hulle verwag word: Stel uitvoerende hoofde aan, handhaaf bestuurstandaarde en beskerm inwoners se belange.

“Wanneer hulle omtrent drie, vier, vyf maande na die opleiding neem, dan is iets verkeerd,” het hy aan NMH gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer