Rundu se burgemeester, Andreas Jikerwa. Foto argief
Rundu se burgemeester, Andreas Jikerwa. Foto argief

‘Rundu se donker strate Nored se skuld’

Inwoners se veiligheid in gedrang
Die burgemeester het gesê sommige nuut opgerigte lamppale is ook onvolledig of gevandaliseer.
Eliot Ipinge

Die burgemeester van Rundu, Andreas Jikerwa, het die kragverspreider in die Noorde, Nored, daarvan beskuldig dat hy versuim om die dorp se straatligte in stand te hou. 

Jikerwa het gesê wydverspreide verwaarlosing het die meeste strate in duisternis gelaat en die inwoners se veiligheid in die gedrang gebring.

In ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) het hy gesê “iets het verkeerd geloop” met die instandhouding van bestaande straatligte en bygevoeg Nored het nie eens basiese instandhouding gedoen nie, soos om gloeilampe te vervang.

“As ’n mens na al die strate kyk, is hulle donker,” het Jikerwa gesê.

“Dit is Nored se verantwoordelikheid om dit wat reeds daar is, spesifiek straatligte, in stand te hou.”

Die burgemeester het gesê sommige nuut opgerigte lamppale is ook onvolledig of gevandaliseer, met ontbrekende bedrading en ligte wat nie werk nie, wat tot verslegtende toestande regdeur die dorp bydra.

“Daar is ’n paar nuwe pale wat opgerig is en dit lyk asof dit net daar gelos is. Selfs die drade is uitgesny,” het hy gesê.

Jikerwa het die swak toestand van straatligte aan groeiende kommer oor veiligheid verbind en gesê inwoners wat snags rondloop, is veral kwesbaar.

“Enige dorp of ligging benodig straatligte, want dit is iets wat mense vir sekuriteitsdoeleindes gaan help, veral wanneer mense snags stap, werk toe gaan of van die werk afkom,” het hy gesê.

Ten spyte van die uitdagings, het die burgemeester gesê die dorpsraad het die versekering van Nored ontvang dat werk aan die langverwagte straatligprojek tussen Augustus en September vanjaar sal hervat.

Volgens Jikerwa sal die beplande projek verskeie woongebiede, soos onder meer Kaisosi, Kasote, Ndama, Sun City, Tuhingireni en Kehemu insluit.


WATER EN PAAIE

Benewens elektrifisering, het die burgemeester verskeie infrastruktuurprojekte uitgelig wat daarop gemik is om langdurige uitdagings met dienslewering in die dorp te takel.

Hy het gesê padrehabilitasiewerk om ernstige verspoelings in die Queen’s Park-woongebied aan te pak, vorder goed, met die kontrakteur wat na verwagting gedeeltes van die geraakte paaie teen einde Junie of vroeg in Julie sal heropen.

“Hulle is besig om daaraan te werk,” het hy gesê.

Jikerwa het ook gewys op ’n groot projek vir waterinfrastruktuur wat die konstruksie van reservoirs en watertorings in Ndama en Sun City behels, wat hy glo sal help om herhalende watertekorte te beëindig.

Die projek, wat water uit 21 boorgate sal pomp en van Ndama tot Ngwangwa sal strek, sal na verwagting die bergingskapasiteit verhoog en die dorp se afhanklikheid van NamWater verminder.

“Tans as daar ’n probleem met NamWater se reservoirs is, het ons net water in die pype.

“Hierdie projek gaan broodnodige verligting bring, want die dorpsraad sal sy eie reservoirs hê,” het hy gesê.

Jikerwa het gesê die projek se fakture is reeds ingedien en konstruksie sal na verwagting binnekort begin.


WANBETALERS

Die burgemeester het egter beklemtoon die sukses van die pogings om infrastruktuur te ontwikkel, sterk afhanklik is van inwoners wat hul munisipale rekeninge vereffen.

Hy het inwoners aangemoedig om van die dorpsraad se skuldverligtingsprogram gebruik te maak, wat wanbetalers in staat sal stel om hul uitstaande kapitaalbedrae te betaal terwyl opgehoopte rente afgeskryf word.

“Ons dienslewering is gebaseer op die invordering van inkomste,” het hy gesê.

“As mense nie hul rekeninge betaal nie, dan sal die dorpsraad niks in sy koffers hê om dienste te lewer nie.”

Pogings om kommentaar van Nored oor die instandhouding van straatligte te kry, was onsuksesvol, spyte daarvan dat die verspreider ontvangs van die navraag twee weke gelede erken het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer