FOTO TER ILLUSTRASIE/VERSKAFrnrnfoto bygedra
FOTO TER ILLUSTRASIE/VERSKAFrnrnfoto bygedra

Rondlopervee wek kommer

Voorgestelde wysigings
Die minister van werke en vervoer sê nasionale paaie sal as snelweë verklaar word sodra die nodige prosesse in plek is.
Aurelia Afrikaner

Die toenemende gevaar van beeste langs hoofpaaie in Namibië, veral op die B1-hoofpad in die rigting van Brakwater buite Windhoek, het in die Nasionale Vergadering gaan draai.

Die leier van die Popular Democratic Movement (PDM), McHenry Venaani, wou by die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, weet waarom sy ministerie vee langs hoofpaaie toelaat en wat gedoen word om die kwessie te takel. 

Venaani het ook na dorpe soos Grootfontein verwys waar diere vrylik langs en oor paaie beweeg en beklemtoon die kwessie is nie net tot die B1-hoofpad beperk nie.

Nekundi het erken dis ’n landswye probleem en gemaan dit is die eienaars se verantwoordelikheid om toe te sien dat hul vee binne ’n omheinde gebied beweeg.

Volgens die minister werk die regering aan maatreëls om die probleem aan te pak en sluit onder meer wetlike hervormings in wat tydens die huidige sitting van die parlement bespreek sal word. 

Die voorgestelde wysigings sal in sekere omstandighede die verantwoordelikheid op sowel die eienaars van die vee as op die eienaars van die voertuie plaas. 

“Wat belangrik is, is dat jy nie jou tyd moet mors om jou ligte te flits wanneer jy ’n donkie of bees op die pad sien nie. Moenie verwag dat die dier sal weghardloop omdat jy jou ligte geflits het nie,” het Nekundi gesê. 

Volgens die minister sal nasionale paaie tot snelweë verklaar word sodra die nodige prosesse in plek is. Dit sal die installering van infrastruktuur moontlik maak om te verhoed dat vee die pad oorsteek.

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-11-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer