Rehoboth: Dorpsraad miljoene geskuld
Die Rehoboth-dorpsraad se kopseer met die invordering van inkomste duur voort, met sy debiteure wat tans op sowat N$270 miljoen staan.
Dít ten spyte van ’n verbetering van 8% in inkomste in vergelyking met Junie se syfers. Die inligting is deur die raad se uitvoerende hoof Ronald Windswaai as deel van sy maandelikse vooruitskatting vir Augustus bekendgemaak.
“Ons is steeds op die stadium waar ons nie in staat is om invorderdering te doen soos wat ons veronderstel is nie,” het hy tydens die dorpsraad se maandelikse algemene vergadering gesê.
Volgens Windswaai bemoeilik die dorpsraad se uitstaande skuld van N$270 miljoen sake om die probleem te takel.
Windswaai het gesê die dorpsraad oorweeg strategieë vir die invordering van skuld om sy finansiële volhoubaarheid te verbeter. Die dorpsraad ondersoek ook private vennootskappe met ontwikkelingsvennote om eksterne hulpbronne te benut.
Die finansiële uitdagings vorm deel van die breër strategiese doelwitte en bedrywighede wat in die raad se verslag vir Augustus uiteengesit word. Die verslag sluit ook inisiatiewe in wat verband hou met dienslewering, die ontwikkeling van infrastruktuur, grondlewering, behuising, paaie, water, sanitasie en afvalbestuur.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie