Reeksverkragter vir 57 jaar tronk toe gestuur

Swaar vonnis sewe jaar later
Hoërhofregter Dinnah Usiku het tydens die uitspraak gesê dat die vonnis 'n duidelike boodskap uitstuur dat verkragtingsmisdade swaar deur die howe hanteer sal word.
Rita Kakelo
Die reeksverkragter van Windhoek, Gavin Gawanab (31), sal eers op 88-jarige ouderdom ’n vry man kan wees, nadat hy tot effektiewe tronkstraf van 57 jaar gevonnis is vir die grumisdade wat hy byna sewe jaar gelede teen vroue en minderjarige meisies gepleeg het.

Gawanab het 23 aanklagte in die gesig gestaar, wat wissel van verkragting en poging tot verkragting tot poging tot moord, ontvoering, huisbraak met die doel om te verkrag, onsedelike aanranding, crimen injuria en verskeie vorme van aanranding. Hy is op 14 van die aanklagte skuldig bevind.

Sy misdaadtog het in Desember 2012 begin en voortgeduur tot sy inhegtenisneming in Oktober 2018, toe hy ’n negejarige meisie aangeval het. Hy was destyds reeds op borgtog vrygelaat op vorige aanklagte soos onder meer verkragting, poging tot verkragting, aanranding, aanranding wat verband hou met geslagsgebaseerde geweld en huisbraak, hangende teen hom.

Hoërhofregter Dinnah Usiku het gister tydens die uitspraak gesê die vonnis stuur ’n duidelike boodskap uit dat verkragtingsmisdade swaar deur die howe hanteer sal word en het gewaarsku dat oortreders moet verwag om “dienooreenkomstig hanteer” te word.

Sy het bygevoeg: “As mens na die stortvloed van misdade kyk wat Gawanab gepleeg het, moet die beskuldigde vir ’n aansienlike tydperk uit die samelewing verwyder word.

“Niemand is veilig nie en die hof kan nie sien hoe enigiemand veilig kan wees met hom wat vry rondloop nie.”

Gawanab, wat geen emosie getoon het toe sy vonnis opgelê is nie, het verkragtingstogte in Windhoek en die omliggende omgewing in Desember 2012, Mei 2013, September 2015, September 2016, April 2017 en Oktober 2018 uitgevoer.

Onder sy afstootlike dade was toe hy sy biologiese suster se minderjarige dogter in Windhoek op 26 September 2015 verwurg en verkrag het.

Nóg ’n slagoffer, toe nege jaar oud, is ernstig beseer toe Gawanab op 26 Oktober 2018 haar geslagsdele met ’n mes oopgesny en haar in die omgewing van die Daan Viljoen-wildreservaat verkrag het. Die meisie is in ’n kritieke toestand in die Windhoek Sentrale Hospitaal opgeneem.

Daarna het hy op die vlug geslaan en in die berge agter Otjomuise in die omgewing van Daan Viljoen weggekruip. Die Namibiese polisie het hom uiteindelik vier dae later in die Havana-woonbuurt in die hoofstad vasgetrek waar hy in ’n sinkhuis weggekruip het.

Hy is ook skuldig bevind aan die verkragting van ’n vrou nadat hy haar van haar vriende weggelok en haar daarna met ’n mes gesteek het.

Benewens verkragting, is hy skuldig bevind aan verskeie ander aanklagte, insluitend poging tot verkragting (een met ’n minderjarige), aanranding deur dreigemente, aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering en crimen injuria.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer