RedForce bly, sê Katima

Elizabeth Kheibes
Die Katima Mulilo-dorpsraad gaan nie gehoor geen aan ’n opdrag van die regering om bande met RedForce Debt Management te breek nie.

Volgens die dorpsraad is die opdrag van die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, James Sankwasa, ingevolge die wet onafdwingbaar en teenstrydig met Namibië se verkrygingswette.

Dit volg nadat die ministerie vroeër vandeesweek ’n omvattende instruksie uitgereik het waarin alle plaaslike owerhede opdrag gegee is om nie RedRorce-kontrakte te hernu nie. Diegene wat nie ooreenkomste het nie, is ook gewaarsku om nie enige kontrakte met dié skuldinvorderaar aan te gaan nie. Dié opdrag volg op toenemende nasionale oproer teen RedForce se aggressiewe invorderingstaktieke en ’n golf van openbare protesaksies.

Katima Mulilo se uitvoerende hoof, Raphael Liswaniso, het egter gesê die raad gaan nie aan die opdrag gehoor gee nie en beskryf dit as ’n oorskryding sonder wetlike krag.

“Ek het die opdrag gesien, maar dit is nie wettig nie. Ons kan net iets wettig implementeer,” het Liswaniso aan Netwerk Media Hub (NMH) gesê.

“Ons is nie gebonde aan daardie instruksie nie.”



VERKRYGINGSMAGTE

Liswaniso het aangevoer dat die minister se opdrag die openbare verkrygingswet skend, wat verkrygingsgesag aan rekenpligtige beamptes, verkrygingskomitees en die Sentrale Verkrygingsraad toeken en nie politieke leiers nie.

“Wanneer ’n riglyn met bestaande wetgewing bots, dan het daardie riglyn geen regskrag nie. Die openbare verkrygingswet maak dit duidelik: Verkrygingsbesluite berus by rekenpligtige beamptes, verkrygingskomitees en die Sentrale Verkrygingsraad,” het hy verduidelik.

Hy het verder die wetlikheid bevraagteken om ’n spesifieke maatskappy te teiken sonder om die breër kwessie van skuldinvorderingsbeleide te takel.

“As die minister bloot gesê het plaaslike owerhede heeltemal moet ophou om skuldinvorderaars te gebruik, sou dit ’n beleidsposisie wees wat die moeite werd is om te debatteer.

“Maar wanneer jy ’n diensverskaffer noem wat wettig gekontrakteer is, laat dit vrae ontstaan – beide wetlik en reputasiegewys,” het Liswaniso bygevoeg.

Hy het beklemtoon net die minister van finansies het die wetlike gesag om verkrygingsverwante riglyne ingevolge die huidige regsraamwerk uit te reik.



SPERVUUR

Die opdrag wat deur adjunkminister Eveline Nawases-Tayele namens Sankwasa onderteken is, volg in reaksie op maande van toenemende openbare ontevredenehid oor RedForce se bedrywighede.

Die maatskappy is daarvan beskuldig dat hy water- en kragtoevoer afgesny het, opgeblase boetes op inwoners gehef het en oneweredige druk op lae-inkomstehuishoudings uitgeoefen het om munisipale skuld te betaal.

Gemeenskappe in onder meer Windhoek, Rehoboth, Walvisbaai en Otjiwarongo het met protesaksies en klagskrifte die beëindiging van RedForce-kontrakte geëis.

In Windhoek het inwoners onlangs ’n ultimatum van 48 uur aan Stad Windhoek gegee om die maatskappy en sy praktyke, wat as “uitbuiting en onmenslik” beskryf is, te laat gaan.

RedForce het na bewering meer as N$1 miljard in skuld namens plaaslike owerhede verhaal sedert hulle die mark betree het, ’n bedrag wat, hoewel finansieel beduidend, die verdeeldheid tussen munisipale leiers en die gemeenskappe wat hulle bedien, verdiep het.



WEERSTAND

Terwyl sommige plaaslike rade, insluitend Keetmanshoop, Otjiwarongo en Rehoboth, reeds begin het om hul ooreenkomste met RedForce te hersien, kan Katima Mulilo se onwrikbare standpunt moontlik tot ’n regsgeding lei.

Liswaniso het dit duidelik gestel dat die dorp se bestaande kontrak met RedForce vir die volle termyn sal duur, ongeag politieke druk.

“Of ek nou nog in die amp is of nie, die wet moet gevolg word,” het hy gesê. Kliek hier: https://q.my.na/4M62

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer