Professionele jagter in hof oor vier stukke ivoor

Francoise Steynberg
Jacobus Nel (Japsie) Blaauw, eienaar en professionele jagter van Dzombo Hunting Safaris, het Dinsdag sy tweede hofverskyning in die Tsumkwe-landdroshof in verband met die onwettige besit van ivoor gemaak.

Die 39-jarige Blaauw het op 2 Julie sy eerste hofverskyning op twee aanklagte van die onwettige besit en handel in beheerde wildleweprodukte (vier stukke olifanttande) sonder ’n geldige permit in die hof gemaak. Hy is borgtog van N$15 000 toegestaan.

Die aanklagte spruit uit inligting wat na bewering van ’n vertroulike informant ontvang is oor die moontlike onwettige besit en handel in beheerde wildleweprodukte by Camp Baobab in die Tsumkwe-gebied. Op Donderdag 5 Junie 2025 het beamptes van die Namibiese polisie (Nampol) se eenheid vir misdaadondersoeke van Tsumkwe en die wildlewebeskermingsdienste (WPS) in die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme die inligting opgevolg om die feite in die verslag vas te stel. Die stukke olifanttande is toe volgens Nampol se eenheid vir beskermde hulpbronne (PRU) van die sentrale streek by Camp Boabab in die Nyae Nyae-bewaringsgebied gevind. Blaauw is toe nie in hegtenis geneem nie, omdat hy glo nie in die distrik was nie.

Evert Gous, Blaauw se regsverteenwoordiger, het gister aan Republikein gesê hy was nie Dinsdag self in die hof teenwoordig nie. Aanklaer Vivienne Ndana het vir die staat verskyn.

Landdros Abraham Abraham het die saak tot 10 November vir verdere ondersoek uitgestel.

Blaauw is ’n lid van onder meer die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha), International Safari Club (SCI) en Dallas Safari Club (DSC).– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer