Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa. Foto argief
Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa. Foto argief

President verdien minder as uitvoerende hoofde

Sankwasa meen sy het meer verantwoordelikhede
Wanneer die prestasie van 'n staatsonderneming egter swak is, of reëls geïgnoreer word, lyk dit onregverdig en selfs onverantwoordelik om meer as die president te verdien, meen 'n politieke ontleder.
Nikanor Nangolo
Nikanor Nangolo



Die minister van stedelike en ­landelike ontwikkeling, ­Sankwasa James Sankwasa, het die sala­risse van uitvoerende hoofde in Namibië gekritiseer en gesê hulle word meer as die president en ­ministers betaal, ten spyte daarvan dat hulle minder verantwoordelikhede het.



Hy het gewaarsku dat die stelsel “aandag nodig het”. Dit volg op onthullings oor betaalpakkette by staatsbeheerde ondernemings (SOE’s).



Die voormalige finansiële hoof van die Nasionale ­Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor), ­Jennifer ­Hamukwaya, het N$88 000 per maand verdien op ’n vyfjaarkontrak toe sy in 2018 by Namcor aangesluit het. Teen April 2023 het haar maandelikse salaris meer as verdubbel tot N$180 000.



In 2023 het die media berig dat Namcor die voormalige bankier Lionel Matthews N$230 000 per maand aangebied het om dié nasionale oliemaatskappy te lei. Matthews het na bewering aan die staatsbeheerde maatskappy gesê dat hy N$350 000 per maand by Nedbank verdien het.



Op 4 April vanjaar het die Namcor-­raad aangekondig dat Matthews vir ses maande as waarnemende besturende direkteur sou dien om die ­geskorste besturende direkteur, ­Immanuel Mulunga, te vervang, wat na bewering meer as N$220 000 per maand verdien het.



In vergelyking verdien president Netumbo Nandi-Ndaitwah ’n onbelaste jaarlikse salaris van N$1,7 miljoen, ongeveer N$146 000 per maand, wat lewenslank gewaarborg is. Ingevolge die wet op pensioen- en ander voordele van voormalige presidente is sy ook geregtig op ’n nuutgeboude aftreehuis wanneer sy haar amp verlaat.



“Ons skep probleme en ons moet hierdie probleme ondersoek,” het Sankwasa Woensdag tydens ’n onderhoud op Network Television (NTV) se Evening Review gesê.



“As ’n land moet ons sommige van die dinge hersien sodat dit beter werk vir die burgers van hierdie land. Inwoners betaal nie munisipaliteite nie as gevolg van die tariewe wat deur munisipaliteite vasgestel word. Mense betaal hoë tariewe om bestuurders se salarisse te dek, wat niks te doen het met die dienste wat gelewer word nie.”



REAKSIE



Die politieke ontleder Ndumba Kamwanyah het gister aan Network Media Hub (NMH) gesê as ’n uitvoerende hoof ’n hoogs presterende, doeltreffende staatsonderneming bestuur wat werklike waarde aan die land lewer, hoër betalings geregverdig kan word.



“Wanneer die prestasie van ’n staatsonderneming egter swak is, of reëls geïgnoreer word, lyk dit onregverdig en selfs onverantwoordelik om meer as die president te verdien,” het hy gesê.



“Om ’n groot staatsonderneming te bestuur, kan net so ingewikkeld wees soos om ’n private maatskappy te lei.”



Kamwanyah verduidelik sommige staatsondernemings bestuur miljarde in bates, hanteer nasionale infrastruktuur en bedien miljoene mense.



“Om iemand met die vaardighede en ervaring te lok om daardie druk te hanteer, moet die regering dalk mededingende salarisse aanbied, andersins kan talentvolle professionele persone groener weivelde elders soek, veral in die private sektor of oorsee.”



Nog ’n politieke ontleder Rui Tyitende, wat gereageer het op die vraag of uitvoerende hoofde wat staatsondernemings bestuur hul hoë salarisse verdien, het gesê die vergelyking van die twee posisies is nie ’n geldige vergelyking nie.



“Byvoorbeeld, om ’n president van die land te wees, vereis geen formele kwalifikasies, vaardighede of ervaring nie. Anders gestel, ’n graad 10-uitvaller of ’n volslae idioot kan as president verkies word, aangesien ons geen standaarde het wanneer dit by politici in Namibië kom nie. Al kom hierdie posisie met beduidende verantwoordelikhede, soos om oorlog te voer en die algehele ontwikkeling van die land.”



“Uitvoerende hoofde word gewoonlik aangestel met die verantwoordelikheid om die finansiële en operasionele prestasie van die entiteit wat hulle dien, te verbeter.



“Leierskap en bestuursvernuf is van die allergrootste belang, tesame met sekere kwalifikasies soos bestuur, leierskap en bedrywighede.



“Slegs ’n handjievol uitvoerende hoofde in Namibië verdien egter die astronomiese salarisse wat hulle kry, aangesien die meeste van die staatsondernemings in finansiële nood verkeer en deur onbevoegdheid en korrupsie geteister word,” het Tyitende gesê.



MAANDELIKSE PAKKETTE



Die staat se pensioenfonds (GIPF) het ook berig dat hy N$43,2 miljoen aan vergoeding vir sy 12 sleutelbestuurders gedurende die 2024-boekjaar bestee het.



Die uitvoerende hoof, Martin Inkumbi, was onder diegene wat ’n gemiddelde maandelikse pakket van N$1,59 miljoen ontvang het. Dié totaal het ’n basiese salaris van N$1,083 miljoen, ’n motortoelaag van N$103 576, ’n behuisingsubsidie van N$211 672, mediesefondsbydraes van N$27 906, pensioenfondsbydrae van N$164 020 en ander voordele ingesluit. Bestuurders kom ook in aanmerking vir prestasiebonusse, jaarlikse 13de tjeks en langdienstoekennings met bonusse wat N$23,8 miljoen beloop.



Die regering het in 2018 nuwe salarisregulasies vir semistaatsinstellings goedgekeur, wat top-uitvoerende hoofde toelaat om meer as N$2 miljoen per jaar te verdien, bonusse uitgesluit. Dié hersiene betaalstruktuur, wat deur die destydse minister van openbare ondernemings, Leon Jooste, aangekondig is, het die 2013-reëls vervang wat ingestel is toe wyle dr. Hage Geingob eerste minister was.



DRIE VLAKKE



Semistaatsinstellings word in drie vlakke gerangskik gebaseer op grootte, inkomste, werksmag, markaandeel, vaardighede en bates.



Vlak 3-uitvoerende hoofde verdien tussen N$964 000 en N$2 miljoen per jaar, vlak 2-uitvoerende hoofde tot N$1,3 miljoen en vlak 1-uitvoerende hoofde tussen N$545 000 en N$1 miljoen. Vorige regulasies is dikwels geïgnoreer, met NamPower se baas, Simson Haulofu, wat N$3,4 miljoen in 2016 ontvang het.



Jooste het voorheen gewaarsku die SOE-loonrekening van N$6,1 miljard is onvolhoubaar gegewe die huidige prestasievlakke.



“Hierdie situasie is onvolhoubaar, weerspieël lae vlakke van aanspreeklikheid en regverdig kritieke geteikende ingrypings deur die regering en ’n heeltemal nuwe denkwyse,” het hy in 2018 gesê.



Hy het aangedui dat staatsondernemings, wat geskep is om openbare dienste te lewer, inkomste te genereer en ekonomiese groei te versnel, grootliks misluk het om te presteer.



“In plaas daarvan het hulle ’n las geword en oorleef op jaarlikse staatsubsidies en waarborge. In 2017-’18 het hulle meer as N$4 miljard uit die nasionale begroting ontvang, terwyl hul totale skuld N$43 miljard, 25% van die bruto binnelandse produk (BBP), beloop het.”



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer