President: Rampe bewys ’n nasie se veerkragtigheid

Brande in Etosha onder beheer
'n Bekgeveg het gister oor die egtheid van die foto's van 'n dooie olifantkalf en olifante met brandwonde in die Etosha ­Nasionale Park op die Whats­App-groep van die omgewings­minsiterie uitgebreek.
Nikanor Nangolo
Die verwoestende veldbrande wat in meer as ’n week meer as een miljoen hektaar in en om die Etosha Nasionale Park verswelg het, is onder beheer en geen menseverliese is gely nie.

President Netumbo Nandi-Ndaitwah het gister in haar boodskap aan die parlement, gelees deur die eerste minister Elijah Ngurare, die nasie verseker “geen menseverliese is gely nie”. Die president het gesê ’n assessering sal binnekort in die vlagskippark onderneem word om die omvang van wildverliese, asook die oorsaak van die brand te bepaal.

Die president het benadruk “rampe tref wanneer ons dit die minste verwag, hul spoed is moeilik om onmiddellik te stop en hul verskriklike gevolge is dikwels onbegryplik”. Sy sê in die natuur vind sulke pynlike gebeure plaas.

“Dit is in tye van verwoestende rampe soos hierdie dat ’n mens die veerkragtigheid van ’n nasie aanskou, wat verenig bo politieke en maatskaplike verskille,” het sy bygevoeg.

Honderde soldate van die Namibiese weermag (NDF), saam met personeel van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, is vanaf verlede Maandag ontplooi om die veldbrande te bestry, met boere en gemeenskapslede wat by hulle aangesluit het en onverpoosd geveg het om die vlamme te blus.

Noord van Etosha het gemeenskappe gister nog geswoeg om hul plase, weiding, infrastruktuur en vee te beskerm waar veeverliese weens die brande aangemeld is. By die Eembadhi-veepos in die Okahao-kiesafdeling, in die Omusatistreek, het inwoners die vlamme tot 02:00 gisteroggend beveg, berig Kenya Kambohe van Network Media Hub (NMH) wat die gebied besoek het.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT), Indileni Daniel, het gister tydens ’n antwoordsessie in die parlement bevestig brande is steeds in drie gebiede van die Omusatistreek by Ombonde, Amalika en Okelongo aktief waar ’n helikopter gister ontplooi is.

‘VRYWILLIGERS NIE TOEGANG GEWEIER’

Sy het bewerings verwerp dat vrywilligers toegang geweier is om met brandbestryding te help en gesê haar kantoor het toestemming verleen aan diegene wat haar direk gekontak het.

Die minister het herhaal dat Etosha Nasionale Park verdeel is in blokke wat deur brandpaaie gemerk word en deur ’n nasionale parkbestuursplan ondersteun word. Daniel het egter toegegee dat ten spyte van sulke voorsorgmaatreëls, brande steeds oor brandpaaie kan spring.

’n Bekgeveg het gister oor die egtheid van die foto’s van ’n dooie olifantkalf en olifante met brandwonde in die park op die WhatsApp-groep van die omgewingsminsiterie uitgebreek.

“Hierdie foto lyk nie eg nie. Die MEFT-helikopter, vastevlerkvliegtuig en die twee NDF-helikopters hou aan om die situasie te monitor en diere-ongevalle te identifiseer. ’n Olifant is onlangs opgemerk en veeartse bepaal steeds die oorsaak van sy dood,” het die woordvoerder, Ndeshipanda Hamunyela teruggekap.

“Afgesien hiervan, bly bevestigde diere-ongevalle nege wildsbokke en een ietermagô wat tydens die brand beseer is.”

Sy het gesê die ministerie is nie bewus van al die voorvalle wat tans op sosiale media sirkuleer nie: “Ons versoek dus dat as iemand op ’n dierkarkas of ’n beseerde dier afkom, hulle die ministerie vriendelik in kennis stel en die ligging verskaf.”

BLITSLYN

Bronne in bewaringskringe het bevestig die veearts van die omgewingsminsiterie in die Etosha Nasionale Park, dr. Janine Sharpe, is druk besig op die grond. ’n Personeellid van ’n private lodge het ingespring en haar hulp en nommer voorlopig as ’n blitslyn aangebied sodat besoekers aan die park GPS-liggings van dooie en beseerde wild in Etosha by haar aanmeld om Sharpe in te lig. Dit is om die presiese liggings vas te stel sodat onmiddellike aandag aan die diere gegee kan word. Geen voorvalle is teen laat gister by die barmhartige samaritaan aangemeld nie, maar intussen is voorstelle gegee dat die omgewingsministerie ’n blitslyn aan die publiek verskaf om gevalle en liggings aan te meld.

Voorstelle is ook uit private bewaringsgeledere gemaak dat Sharpe deur ander veeartse in die private sektor bygestaan word, maar veeartse van die Universiteit van Namibië se departement veeartsenykunde sal na bewering ondersteuning bied.

Nóg ’n voorstel is dat private helikopter- en girokoptervlieëniers ingespan word om oor Etosha te vlieg om GPS-liggings van karkasse en beseerde diere aan te meld.

[email protected]

Klik op die skakel https://q.my.na/3R1K

Kommentaar

Republikein 2025-10-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer