Pensioenarisse registreer vir skuldverligting
Altesaam 1 275 doen reeds aansoek
Slegs die agterstallige skuld teen 30 November 2023 word op rekeninge afgeskryf.
Die Windhoek-munisipaliteit se aanbod om pensioenarisse se skuld af te skryf, word as ’n positief stap deur die hoofstad se senior burgers beskou, met 1 275 pensioenarisse wat reeds vir verligting geregistreer het.
Die aanbod is reeds vroeg verlede maand bekend gestel met registrasies wat vanaf 15 Februarie tot 15 April sal duur. Inwoners wat die ouderdom van 60 teen 30 November 2023 bereik het, kom in aanmerking. Aansoek kan vir persoonlike rekeninge asook boedelrekeninge gedoen word.
Slegs die agterstallige skuld teen 30 November 2023 word op rekeninge afgeskryf. Die lopende rekeninge vanaf 1 Desember 2023, rente tot op datum uitgesluit, is ten volle betaalbaar. In die geval van ’n boedelrekening, moes die rekeninghouer ’n pensioenaris (60 of ouer) gewees het op die datum van afsterwe.
Die munisipaliteit se woordvoerder, Lydia Amutenya, sê een van die voorwaardes om vir verligting te kwalifiseer is dat senior burgers voorafbetaalde water- en kragmeters geïnstalleer moet hê. Dit is om water en krag in die stad volhoubaar te bestuur vir die toekoms, brei sy uit.
Voorafbetaalde watermeters bied ’n oplossing vir die bestuur van watervoorsiening aan pensioenarisse en kan kliënte bevoordeel deur oorverbruik te vermy en geld te help spaar. Kostes kan ook gemonitor word en watergebruik kan dus vooruit beplan word, voeg sy by.
Om ’n nuwe voorafbetaalde watermeter te installeer, vra die munisipaliteit N$4 293, belasting uitgesluit, terwyl ’n voorafbetaalde kragmeter jou N$2 332,50 met belasting uit die sak sal jaag.
“Ons bied bekostigbare betaalopsies aan ons kliënte, wat óf vooruit betaal kan word óf oor vyf jaar afbetaal kan word,” sê Amutenya.
“Dis belangrik om te benadruk dat die munisipaliteit geen wins uit die program maak nie. Die koste van die voorafbetaalde watermeter dek die verskaffer se prys, installasie- en administrasiefooie,” voeg sy by.
Indien ’n pensioenaris reeds voorafbetaalde meters in plek het, is dit nie nodig om met registrasie vir nuwe meters aansoek te doen nie. Dit maak die registrasieproses ook vinniger, sê sy.
’n Pensioenaris moet egter beide voorafbetaalde water- en kragmeters hê, of daarvoor aansoek gedoen het om in aanmerking te kom. Aansoek vir die meters geskied op dieselfde tyd as die registrasie vir die skuldverligting. Daarsonder kwalifiseer die betrokke kliënt nie, en is onderhewig aan die hoofstad se bestaande kredietbeheerbeleid, sê sy.
Windhoek se skuldverligtingsinisiatief maak voorsiening vir 100%-verligting op kapitaalbedrae en rentekoerse vir pensioenarisse en 50% vir besighede en gewone inwoners.
Amutenya het voorheen bevestig dat die hoofstad se totale uitstaande skuld in Februarie reeds meer as N$520 miljoen beloop het.
Pensioenarisse kan weeksdae van 08:30 tot 19:00 en op Saterdae van 08:30 tot 15:00 by die munisipaliteit se hoofkantoor in die stad, die Katutura-kliëntesorgsentrum en die Ombili-kliëntesorgsentrum aansoek doen.
Pensioenarisse sal afskrifte van die rekeninghouer of verteenwoordiger se identiteitsdokument en bewys van eienaarskap (soos ’n afskrif van ’n titelakte) benodig. Waar ’n inwoner verskeie eiendomme besit, moet hulle ’n polisieverklaring verskaf wat hul primêre woning aandui.
Vir boedelrekeninge sal inwoners dieselfde dokumente benodig, asook ’n huweliksertifikaat (indien van toepassing), ’n afskrif van die eienaar se doodsertifikaat en ’n voogdybrief vir minderjariges.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie