Paulus Noa kyk terug op sy loopbaan

‘Leierskap was geen maklike taak’
Namibië se eerste ACC-hoof kyk terug op sy loopbaan terwyl hy ná twee dekades die leisels oorgee.
Sonja Smith

Toe Paulus Noa in Januarie 2006 vir diens aanmeld as Namibië se eerste direkteur-generaal van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC), was die pos so nuut dat dit in praktiese terme nog nie eens bestaan het nie. 

Daar was geen hoofkantoor, geen personeel en hy het nie eens ’n kantoor gehad van waar hy kon werk nie.

Twee dekades later laat hy ’n volwaardige nasionale teenkorrupsie-agentskap agter, met gespesialiseerde forensiese en intelligensie-eenhede asook vir die bekamping van geldwassery, streekkantore en meer as 7 500 korrupsieklagtes wat verwerk is.

Nadat president Netumbo Nandi-Ndaitwah vir Bryan Eiseb, direkteur van die Sentrum vir Finansiële Intelligensie, as sy opvolger genomineer het, het Noa met Network Media Hub (NMH) gesels oor die uitdagings verbonde daaraan om Namibië se korrupsiewaghond van die grond af op te bou, die beskerming van sy onafhanklikheid, die hantering van openbare kritiek en die nalatenskap wat hy hoop om agter te laat.

Vir Noa is die vroeë jare deur onsekerheid gekenmerk.

“Daar was geen logistieke reëlings, soos kantore en infrastruktuur, in plek nie. Ons is aangeraai om self ’n uitweg te vind om ’n plek te kry van waar ons kon werk, terwyl ons aan die struktuur van die ACC gewerk het,” het hy onthou.

Wat dié uitdagings vererger het, was ’n vloedgolf van openbare klagtes in ’n tyd toe die kommissie nog besig was om sy voete te vind.

Talle klagtes, het hy gesê, het buite die kommissie se wetlike mandaat geval, terwyl ander verband gehou het met voorvalle wat die teenkorrupsiewet voorafgegaan het.

“Sodra jy terugvoer gee dat jy ’n ondersoek van die hand wys, raak hulle emosioneel en kom tot die gevolgtrekking dat die kommissie tandloos en die direkteur onbevoeg is,” het Noa gesê.

Hy het ook die geweldige druk onthou om elke bewering te ondersoek, ongeag of die wet dit toegelaat het.

Met dié oorweldigende werkslas op sy skouers, het Noa die destydse inspekteur-generaal van die polisie, luitenant-generaal Sebastian Ndeitunga, om hulp genader.

“Ek is dankbaar teenoor generaal Ndeitunga vir sy ondersteunende benadering destyds. Dit het die gees van gesamentlike ondersteuning en samewerking gebou wat die ACC en die Namibiese polisie tot vandag toe handhaaf,” het hy gesê.


BAKSTEEN VIR BAKSTEEN

Noa sê een van sy trotsste prestasies was nie ’n spesifieke korrupsie-ondersoek nie, maar die totstandkoming van die instelling self.

“Gedurende my ampstermyn kon ons die personeelstruktuur van die ACC daarstel.”

Die kommissie het gespesialiseerde direktoraatstrukture vir ondersoeke, openbare voorligting en korrupsievoorkoming, forensiese ondersoeke, intelligensie en die bekamping van geldwassery ingestel. Streekkantore is ook in Oshana, Otjozondjupa, Kavango-Oos en Erongo gevestig.

“My droom was om uiteindelik streekkantore in al 14 streke te vestig, maar die begroting wat elke boekjaar toegeken word, was beperk. Hopelik sal die nuwe bestuur voortbou op wat ek opgehou het,” het hy gesê.

Buite Namibië se grense het Noa ook daaraan gewerk om die ACC binne internasionale teenkorrupsienetwerke te posisioneer deur leierskaprolle by die Verenigde Nasies en streekliggame vir die bekamping van korrupsie te beklee.

“Ek kon Namibië op die wêreldkaart plaas deur die ACC met alle eweknie-instellings in die SADC-streek, op die Afrikavasteland en wêreldwyd te verbind.”


VERANDERENDE GESIG VAN KORRUPSIE

Waar korrupsie vroeër beteken het dat kontant in koeverte van hand tot hand gegaan het, sê Noa vandag se skemas is baie meer gesofistikeerd.

“Ek stem volkome saam dat korrupsie nie meer op tradisionele maniere, soos deur middel van bruin koeverte, gepleeg word nie. Dit word eerder deur middel van ingewikkelde finansiële transaksies uitgevoer,” het hy gesê.

Dié transformasie, het Noa gesê, vereis gesofistikeerde ondersoekinstrumente.

Hy meen Namibië het dringend wetgewing oor kubermisdaad en breër teenkorrupsiewette nodig, wat in staat is om onwettige verryking, finansiële misdaad en korrupsie – wat deur voortdurend ontwikkelende tegnologieë vergemaklik word – te takel.

“Korrupsie het so gesofistikeerd geword as gevolg van vinnige tegnologiese vooruitgang en die gebruik van kunsmatige intelligensie,” het Noa gewaarsku.


FINALE TELLING

Sedert die ACC in 2006 sy deure geopen het, het die kommissie 7 503 klagtes geregistreer.

Van dié klagtes is 3 459 ná beoordeling verwerp omdat daar bevind is dat dit verband hou met persoonlike geskille, administratiewe aangeleenthede of bewerings wat buite die kommissie se mandaat val. ’n Verdere 4 044 voorvalle is ondersoek.

Volgens Noa is 2 812 ondersoeke afgehandel, terwyl 92 sake tans op ’n besluit van die aanklaer-generaal wag.

Nog 430 sake is deur die howe afgehandel, terwyl 332 nog op verhoor wag.


KRITIEK

Gedurende sy ampstermyn het hy dikwels kritiek in die gesig gestaar dat die ACC óf te stadig óf huiwerig was om hoëprofiel-korrupsiesake na te jaag.

Noa het die kritiek van die hand gewys en gesê talle kritici het óf die kommissie se wetlike mandaat verkeerd verstaan, óf ondersoeke verwag waar daar geen regsgrondslag bestaan het nie.

“My beginsel was nog altyd om die mandaat soos in die wet bepaal, sonder vrees of guns uit te voer," het hy gesê. 

“Ons word deur die regsraamwerk gelei en ondersoek nie bloot om die publiek tevrede te stel nie. Ons heg waarde aan die regte en waardigheid van elke persoon in Namibië.”

Noa het vertroue uitgespreek in Nandi-Ndaitwah se benoeming van Eiseb as sy opvolger. 

“Hy moet ’n dik vel hê en gereed wees om teen enige oortreder op te tree – ongeag die persoon se status – solank daar bewyse is wat die optrede regverdig.

“Hy moet nie sy morele standvastigheid of die ACC se goeie naam en integriteit in gedrang bring nie,” het hy raad aan Eiseb gegee.

Noa het gewaarsku dat dit ’n mens kan isoleer om aan die hoof van die kommissie te staan.

“Om aan die stuur van die ACC te staan, is ongelukkig ’n eensame omgewing, riskant; jy het ’n paar uitgesoekte vriende en baie kritici. 

“Om die ACC te lei, was geen maklike taak nie,” het hy gesê.


NALATENSKAP

Ten spyte daarvan dat hy vir byna twee dekades by die ACC werksaam was, sê Noa sy werk bly onvoltooid.

Hy wil sien dat die ACC-wet versterk, die kommissie se personeelstruktuur uitgebrei en salarisse verbeter word om die verlies aan ervare ondersoekers te stuit.

Hy het gesê die agentskap het 22 hoogs opgeleide ondersoekers verloor aan instellings wat beter vergoeding bied, waaronder die Namibiese Inkomste-agentskap en die Sentrum vir Finansiële Intelligensie.

“Tensy die voorgestelde struktuur goedgekeur en salarisse en diensvoorwaardes van ACC-personeel verbeter word, sal die kommissie ’n blote wit olifant word, wat nie in staat is om die mandaat van hierdie edele instelling doeltreffend uit te voer nie,” het hy gemaan.

Oor sy nalatenskap, het Noa gesê hy vertrek met min spyt.

“My span en ek het omsigtig en met die uiterste integriteit gedien.

“Ons het elke verdagte se regte en waardigheid deeglik in ag geneem. . . en te goeder trou en sonder kwaadwilligheid besluite geneem,” het hy gesê.

Terwyl hy voorberei om die leisels aan ’n nuwe geslag leierskap oor te gee, het hy beklemtoon dat die stryd teen korrupsie nooit op slegs een individu se skouers behoort te rus nie.

“Die sukses om korrupsie te beveg hang nie van ’n individu af nie, maar van gesamentlike pogings.”

Noa se termyn eindig amptelik op 31 Julie.

[email protected]


Feite:

* Aangestel as ACC-direkteur-generaal: 2006

* Jare gedien: 20

* Presidente waaronder gedien: 4

* Genomineerde opvolger: Bryan Eiseb


Ampstermynsyfers:

* 7 503 klagtes geregistreer

* 3 459 ná beoordeling verwerp

* 4 044 voorvalle ondersoek

* 2 812 sake afgehandel

* 92 wag op AG-besluit

* 430 sake in hof finaal afgehandel

* 332 sake steeds voor hof

Kommentaar

Republikein 2026-07-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer