Ouma se smart nadat seun kleuters ‘vermoor’

Voorheen probeer selfdood pleeg
Die verdagte het glo die ma van die seuntjie en die ­dogtertjie gedreig hy gaan haar ­doodmaak.
Kenya Kambowe
Die gemeenskap van die Onkani-nedersetting in die Oshikotostreek moes gister tot verhaal probeer kom nadat ’n 32-jarige man na bewering sy twee kinders, ’n dogtertjie van vier en ’n seuntjie van twee, die vorige dag vermoor het.

Die man het homself gister by die Okatope-polisiekantoor oorgegee waarna hy in hegtenis geneem is.

Sy ma, Selma Thomas, het gister in ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) gesê haar seun het Vrydag uit Windhoek by die nedersetting aangekom. Met sy aankoms het sy by hom probeer uitvis waarom die ma van die kinders nie saam met hom was nie.

Volgens Thomas het haar seun gesê die paartjie het baklei en hul verhouding was op die rotse. Sy het later ’n oproep van die ma van die twee kinders ontvang dat haar seun gedreig het om haar dood te maak.

“Hul verhouding was toksies. Die ma van die kinders het gesê hy wou haar doodmaak. Op die dag wat hy uit Windhoek is, het sy probeer om die hulp van die polisie in te roep, maar hulle kon hom nie opspoor nie, omdat hy reeds op pad Noorde toe was,” het Thomas vertel.

Volgens haar was daar met haar seun se aankoms geen teken dat daar enigsins iets fout was nie en het hy altyd sy liefde aan die twee kleintjies betoon.

Op die noodlottige dag is die twee kinders saam met ander kinders uit die huishouding kerk toe. Thomas sê haar seun het die middag sy twee kinders gevat en aan die ander kinders in die huis gesê dat hy hulle na die pad toe neem. Hy het toe glo die twee kleuters verwurg en op die vlug geslaan.

Volgens Thomas kon sy met haar terugkeer die middag na die huis haar seun en twee kleinkinders nêrens vind nie. Dit is toe dat daar aan haar gesê is dat hy die twee kleuters na die pad geneem het. Enkele minute later het sy oproepe van verskeie familielede gekry wat teksboodskappe van haar seun ontvang het waarin hy erken dat hy sy twee kinders vermoor het. Hy het ook die ligging gedeel waar om hul liggame te vind.

Familie en lede van die gemeenskap het hulle na die toneel gehaas waar hulle op die lewelose liggame van Thomas se kleinkinders afgekom het. Hulle liggame is gevind naby ’n gemeenskaplike waterpunt wat sowat 300 meter van hul huis is.

“Ek het nie gegaan nie, want ek was in skok en kon nie glo wat gebeur nie,” sê Thomas.

Volgens die bedroefde ouma het die ma van die twee kleuters na bewering van skok flou geval toe sy die skoktyding ontvang het en sy is na ’n hospitaal in Windhoek geneem.

Oshikoto se goewerneur, Sacky Kathindi, het gister saam met ’n afvaardiging van senior polisiebeamptes en lede van die streekraad die familie besoek om simpatie met hul geweldige verlies te betoon. Thomas het tydens die besoek aan Kathindi gesê haar seun het voorheen probeer selfdood pleeg, maar was onsuksesvol. Die toue wat hy na bewering gebruik het, is na die huis gebring en daar is vir hom gebid. Hy het daarna na Windhoek teruggekeer. Die polisie se ondersoek duur voort.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer