Otji-inwoners eis beter dienste, skuldverligting
Gefrustreerde inwoners van Otjiwarongo het Donderdag ’n vreedsame optog gehou en antwoorde geëis oor ’n voorgestelde afskrywing van N$10,57 miljoen van pensioenarisse se munisipale skuld.
Die dorpsraad het byna vier maande gelede dié besluit goedgekeur, maar nog nie geïmplementeer nie.
Gemeenskapsaktivis Marchellinus Sanambi en ander inwoners het ’n klagskrif aan die voorsitter van die Otjiwarongo-munisipaliteit se bestuurskomitee, Namibia Kandume, oorhandig waarin kommer uitgespreek word oor pensioenarisse, grondtoekennings, watermeters en ander munisipale aangeleenthede.
Inwoners het onder meer kritiek uitgespreek oor wat hulle beskryf het as die uitsluiting van pensioenarisse en ander kwalifiserende gemeenskapslede van ’n regeringsinisiatief wat daarop gemik is om kwesbare inwoners te help.
Hulle het geëis dat die munisipaliteit ’n ministeriële opdrag nakom en die name van pensioenarisse bekend maak wat vir skuldverligting ingedien is, sodat die gemeenskap dit kan hersien.
Dokumente wat Republikein gesien het, toon dat die munisipale raad op 7 Mei 2026 ’n besluit goedgekeur het om pensioenarisse se uitstaande skuld van 90 dae en ouer af te skryf. Die voorgestelde skuldafskrywing beloop sowat N$10,5 miljoen.
Luidens raadsdokumente het die munisipaliteit se afdeling vir skuldinvordering uitgebreide kredietbeheermaatreëls toegepas om die uitstaande skuld te verhaal. Dit was egter weens pensioenarisse se finansiële omstandighede onsuksesvol.
Volgens die voorlegging leef talle pensioenarisse van vaste en beperkte maandelikse staatstoelaes, terwyl hul munisipale skuld aanhou ophoop totdat hulle dit nie meer kan bekostig nie.
Die dokument meld verder dat die afskrywing van die skuld pensioenarisse in staat sou stel om toegang tot basiese munisipale dienste te verkry en te verhoed dat hul dienste afgesny word.
WAG STEEDS VIR GOEDKEURING
’n Munisipale vorderingsverslag toon dat ’n lys van pensioenarisse met uitstaande skuld op 14 April aan die bestuurskomitee voorgelê is.
Die komitee het daarna aanbeveel dat die raad die afskrywings op 29 April goedkeur.
Die raad het die lys op 7 Mei goedgekeur, onderhewig aan ministeriële goedkeuring, terwyl ’n versoek om goedkeuring op 18 Mei by die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling ingedien is.
Die ministerie het later, op 19 Augustus, ’n omsendbrief uitgereik waarin plaaslike owerhede versoek word om omvattende inligting in te dien oor uitstaande skuld van pensioenarisse, inwoners wat gesterf het en mense wat as behoeftig geklassifiseer word – sodat moontlike afskrywings oorweeg kan word.
Die munisipaliteit benodig ministeriële goedkeuring voordat die skuldverligting vir pensioenarisse geïmplementeer kan word.
ONTEVREDE INWONERS
Sanambi het intussen gesê inwoners is gefrustreerd oor wat hulle beskou as die munisipaliteit se versuim om langdurige griewe van die gemeenskap aan te spreek.
Die ondertekenaars van die klagskrif het ook geëis dat die munisipaliteit N$1 550 terugbetaal wat, volgens hulle, sommige gemeenskapslede gedwing is om vir foutiewe watermeters te betaal.
Ander kwessies wat in die klagskrif geopper is, het die beweerde dubbele toekenning van erwe ingesluit, asook bewerings dat inwoners wat sowat twee jaar gelede N$23 000 vir erwe betaal het, steeds wag om die erwe in besit te neem. In die klagskrif is gevra vir ondersoeke na die bewerings, sowel as na die Otjiwarongo-behuisingsprogram, Build Together.
Die dokument het voorts bewerings teen munisipale amptenare en raadslede bevat, insluitend bewerings van inmenging met gemeenskapslede wat hul grondwetlike regte uitoefen. Die inwoners het ook verwys na klagtes wat volgens hulle voorheen by instansies, waaronder die Teenkorrupsiekommissie van Namibië en die polisie, ingedien is.
Inwoners het ’n antwoord teen môre geëis. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie