Ontevredenheid heers oor ontwikkeling op Groot Aub

Inwoners ‘weet nie wat hoofstad doen nie’
Gemeenskapsaktiviste mor oor hoe die munisipaliteit van Windhoek die nedersetting bestuur.
Augetto Graig
Die ontwikkeling van Groot Aub het tot stilstand geruk nadat dié nedersetting in September 2017 onder die bestuur van die munisipaliteit van Windhoek geplaas is.

Só lui ’n klagskrif wat die gemeenskapsaktivis Cicel Titus Saterdag namens die inwoners van Groot Aub bekend gemaak het. Met die steun van mede-gemeenskapsaktiviste Edward Gaingob en Shikomba Shikomba, het Titus die gemeenskap se ontevredenheid geopper teen die eensydige manier waarop Stad Windhoek (CoW) die nedersetting ontwikkel.

Hulle is spesifiek ontevrede oor die ligging van tydelike vraghouerkantore wat die CoW voor die grootste kleinhandelaars in die dorp geplaas het, wat glo ook afbreuk aan die hoofstraat maak. Die gemeenskap is ook bekommerd dat die CoW uiteindelik tariewe en belasting op dié arm gemeenskap sal hef.

Nog ’n vrees van die inwoners is dat erwe in kleiner dele opgedeel sal word en onbekostigbare huurkontrakte opgelê sal word op huise waarin gesinne al dekades lank woon, wat sal lei tot die beslaglegging van eiendom wanneer betalings nie gemaak kan word nie.

Inwoners van Groot Aub het glo ook nie titelaktes om huiseienaarskap te bewys nie, volgens Titus.



WERKLOOSHEID, ARMOEDE

Tot 50% van die sowat 15 000 inwoners is werkloos, met talle huishoudings wat afhanklik is van ouer familielede se staatspensioen, voer hy aan.

Verder het die helfte van Groot Aub se huishoudings nie watertoevoer na hul huise nie.

Die CoW moet ook die kragtoevoer wat NamPower op die dorp gevestig het ten duurste aankoop en die gemeenskap verwag die munisipaliteit sal die koste op hulle afdwing. Daar is geen teerpaaie in Groot Aub nie en die teer van paaie in die dorp is slegs ’n valse belofte, volgens inwoners.

’n Raadslid van Windhoek, Ivan Skrywer, is die voorsitter van die raadgewende komitee vir die formalisering van informele nedersettings, verantwoordelik vir die samesmelting van Groot Aub en die CoW.

“Ivan Skrywer woon ook nie hier nie en hy is dus nie relevant vir Groot Aub nie, omdat hy nie ons stryd ken nie,” sê Shikomba.

“Ons baklei nie om ontwikkeling te stop nie, maar wat hier gebeur, is nie reg nie,” voer hy aan.

“Ons sien amptenare van Stad Windhoek hier en daar kom meet, maar ons weet nie waarvoor nie,” voeg hy by.

Skrywer het op navrae beklemtoon die proklamasie van Windhoek se uitbreiding en die insluiting van Groot Aub binne die hoofstad se grense is deur die sentrale regering gedoen. Konsultasies hieroor moes glo al voorheen plaasgevind het.

“Nou is daar ’n wetlike verpligting op Stad Windhoek om die integrasie te fasiliteer,” sê hy.

Skrywer het gesê Windhoek vorder met die integrasie, hoewel die toestroming van mense na Groot Aub ná die proklamasie druk op die hoofstad plaas.

Die sowat 900 erwe in die formele deel van Groot Aub word geleidelik van voorafbetaalde krag- en water voorsien, terwyl die groeiende informele deel van die nedersetting ook opgemeet word.

Hy het bevestig die CoW is besig om die kraginfrastruktuur van NamPower oor te neem en hy verwag dat Groot Aub in ’n sakekern omskep sal word soos die integrasie vorder.

Wat die munisipale kantoor betref, sê Skrywer dit is nodig om dienste nader aan die gemeenskap te bring. Alle munisipale dienste sal op Groot Aub beskikbaar wees wanneer die kantoor oor ’n maand of twee ten volle operasioneel is.

’n Permanente kantoor sal uiteindelik die vraghouers vervang, sê hy.

Die ligging van die nuwe kantoor is die verantwoordelikheid van ingenieurs en munisipale amptenare en hy kan nie daarop reageer nie, het Skrywer gesê.

Luister na die klagskrif hier: q.my.na/XYJT

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer