Ons Namibië, ons gesondheid
Klimaatkrisis enkele grootste bedreiging
Vanjaar se Wêreldgesondheidsdag is onder die vaandel van "Ons Planeet, Ons Gesondheid" gevier.
Henriette Lamprecht
Meer as 13 miljoen mense sterf jaarliks wêreldwyd weens voorkombare omgewingsoorsake.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) sluit dié oorsake die klimaatkrisis in wat as die enkele grootste bedreiging vir gesondheid beskryf word wat die mensdom in die gesig staar.
Volgens die organisasie dryf politieke, maatskaplike en kommersiële besluite die klimaat- en gesondheidskrisis. Dit verwys na meer as 90% van mense wat ongesonde lug weens die brand van fossielbrandstowwe inasem. ’n Wêreld wat besig is om al hoe warmer te word, veroorsaak dat muskiete siektes al hoe verder en vinniger versprei.
“Uiterste weerstoestande, die agteruitgang van grond en waterskaarste ontwortel mense en raak hul gesondheid. Besoedeling en plastiek word in ons diepste oseane gevind en op ons hoogste berge en het hul weg tot in ons voedselketting gevind. Stelsels wat hoogs geprosesseerde, ongesonde kos en drank produseer, dryf ’n vlaag van vetsug, verhoog die voorkoms van kanker en hartsiektes, terwyl dit ’n derde van die wêreld se kweekhuisgasse genereer,” sê die WHO.
In die lig hiervan en midde ’n pandemie, ’n besoedelde planeet en die stygende voorkoms van siektes soos kanker, asma en hartsiektes, is vanjaar se Wêreldgesondheidsdag onder die vaandel van “Ons Planeet, Ons Gesondheid” gevier.
Die doel is om die wêreld se aandag te vestig op die optrede wat dringend nodig is om beide mens en planeet gesond te hou en om gemeenskappe te vestig wat op welstand fokus.
Op die tuisfront het president Hage Geingob gesê die regering plaas groot klem op die gesondheid en welstand van sy inwoners asook die beskerming van die natuur.
In dié verband het Namibië verskeie multi-laterale omgewingsooreenkomste onderteken wat fokus op die aanvaarding en implementering van beleidsrigtings om die negatiewe uitwerking van klimaatsverandering te bestuur.
“Soos ons teen Covid-19 en ander lewensgevaarlike siektes baklei, moet ons voortgaan om hande te vat en gebiede te identifiseer wat dringende ingrypings vereis vir die skep van ’n gesonde Namibië en planeet,” het Geingob gesê.
Die staatshoof het ’n spesiale woord van dank uitgespreek vir die land se frontlinie-werkers, dokters en verpleegsters, insluitend algemene gesondheidswerkers, sowel as mans en vroue in uniform, wat daagliks opofferings maak om lewens te red.
“Kom ons verenig om ’n gesonde Namibië te skep, terwyl ons terselfdertyd ons planeet teen skadelike uitlaatgasse beskerm.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie