‘Ons mense verdien optrede, nie verskonings’
Die voorsitter van die staande komitee oor stedelike en landelike ontwikkeling en grondhervorming, Clemencia Coetzee, sê dit is onaanvaarbaar dat inwoners van Keetmanshoop sukkel om toegang tot water – ’n basies diens – te verkry.
“Die mense van Keetmanshoop verdien beter. Hulle verdien ’n munisipaliteit wat funksioneer, raadslede wat verantwoordelikheid neem en instellings wat die belange van inwoners eerste stel,” het sy gesê.
Volgens Coetzee mag water nooit ’n voorreg word nie en is dit ’n noodsaaklike diens wat beskerm moet word en met waardigheid gelewer moet word.
“Die tyd vir verduidelikings sonder optrede is verby. Ons mense het oplossings, aanspreeklikheid nodig en, bowenal, water wat uit hul krane vloei” het Coetzee gesê.
Sy het gesê die kwessie vereis ernstige parlementêre toesig.
“Die betrokke instellings moet gevra word om te verduidelik wat verkeerd geloop het, watter onmiddellike maatreëls getref word en watter konkrete planne in plek is om te voorkom dat dit weer gebeur,” het sy gemaan.
Coetzee het gesê sy is veral bekommerd oor die impak van die waterkrisis op die dorp op kwesbare huishoudings, skole, gesondheidsgeriewe, bejaardes, persone met gestremdhede en kleinsakeondernemings.
“Toegang tot water hou direk verband met sanitasie, openbare gesondheid, onderwys en ekonomiese bedrywighede. Die gevolge van langdurige onderbrekings strek dus veel verder as blote ongerief.
“Die voortdurende waterkrisis in Keetmanshoop is uiters kommerwekkend en vereis dringende ingryping deur alle verantwoordelike owerhede,” het Coetzee gesê.
Sy het beklemtoon water is nie ’n luukse nie, maar ’n basiese behoefte en ’n noodsaaklike komponent van menswaardigheid, openbare gesondheid en sosioëkonomiese ontwikkeling.
“Agter elke droë kraan skuil ’n gesin, ’n kind, ’n bejaarde, ’n pasiënt of ’n kleinsakeonderneming wie se daaglikse lewe ontwrig word,” het sy gesê.
Volgens haar mag die finansiële, tegniese en administratiewe uitdagings waarmee munisipaliteite te kampe kry, nie as ’n verskoning kan dien vir die voortdurende versuim om noodsaaklike dienste te lewer nie. Sy het ’n beroep op die munisipaliteit en sy raadslede gedoen om dringend met NamWater, die ministerie van landelike en stedelike ontwikkeling en ander relevante belanghebbendes in gesprek te tree ten einde ’n onmiddellike en volhoubare oplossing te vind.
“Die situasie vereis leierskap, nie die verskuiwing van verantwoordelikheid van een instelling na ’n ander nie. Munisipale leierskap bestaan om die mense te dien, openbare hulpbronne verantwoordelik te bestuur en te verseker dat basiese dienste konsekwent gelewer word.”
Coetzee het gemaan die Keetmanshoop-munisipaliteit kan dit nie bekostig om passief te bly, terwyl inwoners sukkel nie. Volgens haar moet die burgemeester en raadslede verantwoordelikheid neem en optree.
“Hulle is verkies om die belange van die mense te verteenwoordig en daardie verantwoordelikheid moet deur beslissende leierskap, aanspreeklikheid en praktiese oplossings gedemonstreer word.”.
Sy het ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om dringend rekenskap van sy finansiële en administratiewe posisie te gee, veral rakende die invordering van waterinkomste, uitstaande betalings en die bestuur van hulpbronne wat bedoel is om watervoorsiening te verseker.
“Inwoners verdien deursigtigheid en eerlike kommunikasie oor die omstandighede wat tot hierdie situasie gelei het. Verder moet noodmaatreëls, insluitend die voorsiening van watertenkwaens aan geraakte gemeenskappe, geprioritiseer word terwyl ’n blywende oplossing geïmplementeer word,” het Coetzee gesê.
“Ons verantwoordelikheid as openbare verteenwoordigers is om te verseker instellings bly aanspreeklik en dienslewering word nooit tot beloftes en politieke verklarings verlaag nie.
“Ons moet ook erken volhoubare munisipale ontwikkeling hang van gesonde finansiële bestuur, behoorlike beplanning, doeltreffende instandhouding van infrastruktuur en verantwoordelike plaaslike regering af,” het sy gesê.
“Munisipale rade moet verstaan leierskap gaan met verpligtinge gepaard en daardie verpligtinge moet nagekom word.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie