Onrus op Steynshoop

Aweregse humor, onverwagte gebeure
Ingrid Winterbach word allerweë as een van die groot hedendaagse Afrikaanse romansiers beskou.
Henriette Lamprecht
Dr. Emma Kirchner Sy is wyd bekroon en het reeds twee maal die gesogte Hertzogprys, tesame met ’n rits ander toekennings verower. Ingrid Winterbach is bekend as skrywer en skilder – en hierdie twee media word kreatief in haar nuutste roman benut. Hoewel Winterbach se romans geen ligte leesstof is nie, is Onrus op Steynshoop dalk daardie roman wat selfs die oningeligte leser sal boei. Met kenmerkende aweregse humor en onverwagte gebeure word die wel en weë van die plattelandse dorpie Steynshoop vertel. Hierdie Vrystaatse dorpie beleef ’n ongekende opbloei en verandering weens die teenwoordigheid van Chinese inwoners. ’n Heel nuwe en ryk kultuur bloei op Dragon Square en in die Green Lantern. Die Chinese rig ’n aanleg buite die dorp op vir die verbouing en uitvoer van ’n geheimsinnige wonderkruid. Heelwat van die verhaal handel dan ook oor die geweldige ervarings wat met die gebruik van die kruid gepaard gaan. In tipiese Winterbachstyl word die roman deur uiteenlopende karakters bevolk, waarvan sommige reeds in ’n vorige roman, Buller se plan, aan die leser bekend gestel is. Die hoofkarakter, Benna, is ’n haarstilis, motorwerktuigkundige en skrywer. Hy bly steeds by sy ma Vera, nadat sy pa in die werkswinkel doodgeskiet is. Sy broer Petie se kom en gaan versteur die vrede in die huishouding en die verhouding tussen pa’s en seuns is ’n tema wat ook in ander verhaallyne uitgebou word. Deur middel van skinderstories in die salon en koppies groentee by die Green Lantern ontvou die onrus as die reaksie van veral die township-inwoners op die Chinese inkommers. Onrus op Steynshoop is ook die verhaal van Benna se jeugvriend Sarel en ook sy groot liefde Fonny. Hierdie drie het saam as jong mense kuns bestudeer, en al drie karakters hou hul met kreatiewe aktiwiteite besig – met uiteenlopende sukses. Die twee jong manne begin byvoorbeeld ’n interessante en subversiewe aanlyn tydskrif, Eindtyd/Endgame (’n veelseggende titel). Veral Fonny ontwikkel in ’n begaafde skilder, terwyl Sarel ’n roman oor ’n reeksmoordenaar skryf. Die strokiesprentgenre (van die Westerse Marvel tot die Japannese Manga) word deurgaans op interessante wyse betrek deur die inkorporering van strokiesprentverhale waaraan Benna, sy Chinese vriend Chaoxing en Fonny werk. Behalwe sosiale kommentaar, handel die roman oor die spanning wat kan ontstaan tussen die dien van die medemens en die eise wat die kunste kan stel, veral gedra deur Fonny. En verder word die filosofie, die magiese effek van dwelms asook die kwasi-intellektuele benadering tot die kunste aangespreek deur die kom en gaan van die vreemde Jona Voorsanger-karakter. Ek stem saam met Johan van Zyl (resensie in Maroela Media, 15 Augustus 2024) dat Winterbach inderdaad die leser laat wonder of ons uiteindelik die einde van die kunste, filosofie en les bes estetika bereik het. Al wat nog uitsig bied, blyk lees te wees. Wat uiteindelik met al die karakters gebeur, en die vraag of kuns wel enige waarde het om sin te maak van die lewe, sal die leser met die lees en herlees van die roman moet probeer ontrafel. Hierdie humoristiese, effe kil en oneerbiedige roman van Winterbach is ’n leeservaring wat liefhebbers van die Afrikaanse letterkunde nie behoort mis te loop nie. Die 12de roman van Winterbach, Onrus op Steynshoop, word môreaand by die literêre gespreksgroep Krit bespreek. Navrae oor Krit: Susan Alexander 081 272 0459. Klik hier vir ’n boekegesprek tussen die digter en joernalis Loftus Marais en Ingrid Winterbach oor Onrus op Steynsdorp: https://q.my.na/PFU HET JY GEWEET? • Die briewe wat sy as 18-jarige met die 44-jarige skrywer Etienne Leroux uitgeruil het, vorm ’n belangrike deel van sy briefroman 18-44, wat in 1967 gepubliseer is. • Sy was ’n lid van die groep Afrikaanse skrywers wat in 1989 met die ANC by die Victoria-waterval vergader het. BOEKE • The Road of Excess (vertaling van Die benederyk) (2014) • Die aanspraak van lewende wesens, Human & Rousseau (2012) • Die benederyk, Human & Rousseau (2010) • The Book of Happenstance, Human & Rousseau (2008) • Die boek van toeval en toeverlaat, Human & Rousseau (2008) • To Hell with Cronjé, Human & Rousseau (2007) • The Elusive Moth, Human & Rousseau (2005) • Niggie, Human & Rousseau (2002) • Karolina Ferreira, (Lettie Viljoen), Human & Rousseau (1993) TOEKENNINGS Die aanspraak van lewende wesens: W.A. Hofmeyrprys (2013), Hertzogprys vir prosa (2013), NB-Uitgewers Groot Romankompetisie (2012), M-Netprys (2013) en die Universiteit van Johannesburgprys (2013). Die boek van toeval en toeverlaat: C.L. Engelbrechtprys vir letterkunde (2012), Sala-toekenning vir ’n letterkundige vertaling (2010), Universiteit van Johannesburg-prys vir skeppende skryfkuns (2007), M-Netprys (2007) en W.A. Hofmeyrprys (2007). Die M-Net-prys (2011): Die benederyk; Hertzogprys vir prosa (2004): Niggie, W.A. Hofmeyrprys (2000): Buller se plan, Ou Mutual-letterkundeprys (1994): Karolina Ferreira, en M-Net-prys (1994): Karolina Ferreira. – Bron: NB Uitgewers AGTERGROND Ingrid Gerda Winterbach is op 14 Februarie 1948 in Johannesburg gebore. Sy het aan die Florida Hoërskool gematrikuleer. In 1969 het sy ’n BA-graad in beeldende kunste aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi en in 1970 het sy ’n honneursgraad in Afrikaans en Nederlands aan dieselfde universiteit verwerf. Sy het haar meestersgraad in Afrikaans en Nederlands in 1974 aan die Universiteit Stellenbosch (US) onder studieleiding van D.J. Opperman voltooi. In die jare ná haar studies, was sy ’n onderwyseres, ’n joernalis by Die Burger en vir 13 jaar ’n dosent in die departement beeldende kunste van US. Daarna was Winterbach ook ’n dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Natal. Sy skryf en skilder voltyds sedert 2002. Haar eerste roman, Klaaglied vir Koos, is in 1984 onder die alias Lettie Viljoen gepubliseer. Sy het nog vier boeke onder hierdie naam gepubliseer. In 1994 is sy bekroon met beide die M-Net- en Ou Mutualpryse vir haar roman Karolina Ferreira. Buller se plan (1999) was die eerste roman wat onder die naam Ingrid Winterbach gepubliseer is. In 2004 is Winterbach bekroon met die Hertzogprys vir prosa vir Niggie. In 2007 is haar agtste roman, Die boek van toeval en toeverlaat, bekroon met die M-Netprys, W.A. Hofmeyrprys en UJ-prys vir kreatiewe skryfwerk.

Kommentaar

Republikein 2025-09-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer