Ondersoek na dood van vakbondleier
Die takvoorsitter van die Mynwerkersunie van Namibië (MUN) by Andrada se Uis-tinmyn, Filemon Mwashindange, het Maandag by die werk ineengestort en gesterf.
Die Namibiese polisie het die voorval bevestig en gesê ’n nadoodse ondersoek sal uitgevoer word.
Die vakbond het sy kommer uitgespreek dat normale werksaamhede by die myn onmiddellik ná sy dood hervat is. MUN het versoek dat werk in die gebied waar Mwashindange ineengestort het, opgeskort word totdat dit beveilig en geassesseer is.
Niklaas Afrikaner, MUN se voorsitter in die westelike streek, het gesê die myn kan nie bloot met “sake soos gewoonlik” voortgaan nie. Die vakbond het ook ’n beroep gedoen op berading vir diegene wat die voorval aanskou het.
Uis Tin Mining se hoofbestuurder, Dana Hattingh, het ’n boodskap van medelye gestuur waarin hy werknemers wat direk geraak word, versoek om die departemente vir menslike hulpbronne, veiligheidsbeamptes of werknemerwelstand vir bystand te kontak.
Hy het ook gemaan dat werkers “hulle daarvan moet weerhou om die omstandighede of oorsaak van sy dood te deel en daaroor te spekuleer”.
MUN het in ’n verklaring Mwashindange se dood betreur en gesê ’n deeglike, deursigtige en omvattende ondersoek moet die oorsaak en omstandighede van sy dood bepaal.
“Die feit dat ’n werker ineengestort het en daarna gesterf het terwyl hy aan diens was, is egter op sigself ’n saak van ernstige kommer vir die vakbond en vereis die hoogste vlak van aandag,” lui die verklaring.
Die MUN het 'n diepgaande ondersoek versoek om alle omstandighede rondom die voorval vas te stel, insluitend of enige werkplek-, operasionele of ander faktore moontlik tot sy dood bygedra het.
Andrada het by monde van sy woordvoerder, Elizabeth Manasse, gesê gepaste prosedures word gevolg en dat die maatskappy ten volle met die ondersoek saamwerk.
“Ons prioriteit is om die familie met waardigheid, deernis en respek te behandel gedurende ’n uiters moeilike tyd.
“In dié verband gebruik Andrada die toepaslike kanale en verseker dat die familie ondersteun word, behoorlik ingelig word en die privaatheid kry wat hulle nodig het,” het sy gesê. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie