FOTO TER ILLUSTRASIE ARGIEF
FOTO TER ILLUSTRASIE ARGIEF

Onderhandelinge oor plaaswerkerlone duur voort in 2025

Geen antwoorde van arbeidsministerie
Op advies van die ministerie van arbeid, nywerheidsverhoudinge en werkskepping het die LWV saam met die ander landbou-unies en die plaaswerkersvakbond aansoek gedoen om landbou van die nasionale minimum loon vry te stel.
Francoise Steynberg
Die Landbouwerkgewersvereniging (LWV) sal in 2025 voortgaan om met die regering te onderhandel oor minimum lone vir landbouwerkers om te verseker dat arbeid op plase bekostigbaar en volhoubaar sal wees.

Dit volg nadat die nasionale minimum loon vir Namibië (NMW) op 7 Augustus 2024 in die Staatskoerant afgekondig is.

Hiervolgens moet alle werkers in die land ten minste N$18 per uur ontvang. Die regulasies maak egter ’n toegewing vir huis- en landbouwerkers wat oor ’n tydperk van drie jaar kan infaseer.

Dit bepaal dat landbouwerkers geregtig is op ’n kontantsalaris van:

– N$10 per uur vanaf 1 Januarie 2025;

– N$14 per uur vanaf 1 Januarie 2026; en

– N$18 per uur vanaf 1 Januarie 2027.

Op advies van die ministerie van arbeid, nywerheidsverhoudinge en werkskepping het die LWV saam met die ander landbou-unies en die plaaswerkersvakbond aansoek gedoen om landbou van die nasionale minimum loon vry te stel.

Die motivering hiervoor is dat die landbousektor reeds vir meer as 20 jaar ’n amptelike onderhandelde minimum loon het wat ook van tyd tot tyd in die Staatskoerant gepubliseer word.

Volgens die arbeidsministerie lê die aansoek by die Arbeidsadviesraad vir oorweging en aanbeveling aan die arbeidsminister.



DILEMMA

“Die landbousektor se dilemma is nou dat die NMW se implementeringsdatum [1 Januarie 2025] kan aanbreek sonder dat ons ’n antwoord van die minister gekry het oor ons versoek vir kwytskelding,” sê die Namibië Landbou-unie (NLU) in sy jongste nuusbrief.

Dit sal beteken dat plaaswerkers vanaf Januarie 2025 ’n kontantloon van ten minste N$10 per uur sal moet kry. Die huidige minimumkontantloon vir plaaswerkers is N$6 per uur.

Die NMW-regulasies bepaal verder dat dit nie die huidige plaaswerkerminimumloon vervang nie,

maar net die minimumkontantloon voorskryf soos hierbo aangedui. Plaaswerkers sal dus steeds geregtig

wees op al die ander voordele in die minimumloonooreenkoms met plaaswerkers, waaronder behuising, water- en kosvoorsiening.

Dit bepaal dat die waarde van geen byvoordele (in-kind benefits) van die voorgeskrewe kontantloon afgetrek mag word nie.

Volgens die LWV se 2024-loonverslag is die werklike gemiddelde kontantloon van plaaswerkers op

lede se plase N$11,04 per uur wat beteken dat die nuwe minimumkontantloon van N$10 per uur, die

meeste werkers glad nie vanaf Januarie 2025 sal beïnvloed nie.

“Intussen sal die LWV in die nuwe jaar voortgaan om met die regering te kommunikeer en te onderhandel om te verseker dat arbeid op plase bekostigbaar en volhoubaar sal wees,” lui die nuusbrief.

Die Namibië Werkgewersfederasie (NEF) het ook intussen ’n dringende versoek aan die minister van arbeid namens die private sektor gerig om die implementeringsdatum van die NMW na ’n latere datum in 2025 te verskuif.

“Die doel is om werkgewers die kans te gee om behoorlik met die regering en vakbonde te onderhandel oor die suksesvolle implementering van die NMW in alle sektore ten einde onnodige werksverliese te voorkom.”

Ook hierdie versoek aan die minister van arbeid het nog geen resultate opgelewer nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer