Omstrede ingenieursraad ontvang toekenning

Iréne-Mari van der Walt
Etlike weke ná ’n herrie in die Namibiese Raad vir Ingenieurswese (ECN) losgebars het, is hierdie einste raad deur die Suider-Afrikaanse Federasie van Ingenieursorganisasies (SAFEO) vereer vir sy strewe na geslagsgelykheid, inklusiewe leierskap en die verkiesing van vroue-ingenieurs.

Dit nadat die ministerie van werke en vervoer se woordvoerder, Julius Ngweda, onlangs aan Network Media Hub (NMH) gesê het die ministerie het die raad ontbind weens onregverdigheid in sommige van sy prosesse, veral met betrekking tot registrasieprosesse, veral wat voorheen benadeeldes betref.

Die voormalige president van die ECN, Sophie Tekie, het die toekenning namens die raad ontvang en het self ’n toekenning vir haar leierskap by die ECN ontvang.

’n Geskil tussen Tekie en die ECN se registrateur, Charles Mukwaso, het in die openbaar ontvou nadat die ministerie die raad ontbind het. Tekie het in ’n brief gereageer met bewerings dat die minister nooit die raadslede in die Staatskoerant gepubliseer het nie en die raad dus in sy poging misluk het om teen Mukwaso op te tree. Tekie beweer die mandaat van registrasies het onder hom geval.

Mukwaso het egter tydens ’n mediakonferensie op 30 Junie beweer hy het bloot ’n administratiewe rol in die registrasieproses gespeel. Hy het gesê ’n registrasiekomitee, wat bestaan uit lede van die raad, het besluit watter kandidate as ingenieurs geregistreer moes word.

“Ek is bloot die administrateur daarvan. Ek stuur net vir hulle die brief,” het Mukwaso gesê.

Hy het ook beweer dat Tekie ’n vendetta teen hom het omdat hy na bewering “rassistiese praktyke” tydens haar vorige ampstermyn by die ECN onthul het.

Oudlanddros Rhivermo Williams, wat Mukwaso vrygespreek het van die aanklagte teen hom, het dit egter nie genoem as een van die redes wat sy in haar finale uitspraak gegee het waarom sy Mukwaso vryspreek nie.

Williams het wel in haar uitspraak gesê die raad het nie die mag om enige besluite te neem nie, soos in die geval om dissiplinêre stappe teen Mukwaso te doen nie.

Tekie beskuldig Mukwaso daarvan dat hy homself as ’n ingenieur geregistreer het, maar Mukwaso glo die brief is vervals en hy het ’n saak van vervalsing teen Tekie aanhangig gemaak in verband met dié brief.

Mukwaso sê die brief wat Tekie volgens hom vervals het, gebruik nie die amptelike ECN-briefhoof nie, het nie ’n stempel op nie en gebruik nie die korrekte stelsel om sy “registrasienommer” te bepaal nie.

“Ek het hierdie stelsel (vir registrasienommers) by die ECN geïmplementeer – hoekom sou ek nie my eie stelsel gebruik nie?” het Mukwaso tydens die konferensie gevra.

Tekie sê sy het die brief op versoek van ’n derde party ontvang, want sy het nie toegang tot die stelsel waar dit gestoor is nie.

Mukwaso beweer ook Tekie het hom gevra om ’n Iranse kandidaat te registreer, ten spyte daarvan dat hy nie die evaluering van sy bevoegdheid of sy onderhoud geslaag het nie, glo weens die kandidaat en Tekie se Bahá'í -geloof.

Tekie sê die kandidaat was gekwalifiseerd om as ’n professionele ingenieur geregistreer te word, maar dat die komitee aanbeveel het die kandidaat moet eerder as ’n geïnkorporeerde ingenieur geregistreer word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer