Khomas se goewerneur, Sam Nujoma jr. Foto ELIZABETH KHEIBES
Khomas se goewerneur, Sam Nujoma jr. Foto ELIZABETH KHEIBES

Nog net 11 huise uit beloofde 5 000 gebou

Nog 23 eenhede beplan
Khomas-goewerneur Sam Nujoma (jr.) het Vrydag sy eerste streekrede gelewer.
Elizabeth Kheibes
Die enigste sigbare behuisingsontwikkeling onder goewerneur Sam Nujoma jr. se administrasie tot dusver spruit uit bestaande Nasionale Behuisingsondernemings (NHE)-programme, waarvan sommige sy aanstelling voorafgaan.

Nujoma het Vrydag tydens sy eerste streekrede (Sora) gesê slegs 11 eenhede is onder die opgraderingsprogram vir informele nedersettings vir N$2,7 miljoen voltooi, terwyl 23 bykomende eenhede in die beplanningsfase is.

’n Totaal van 244 wooneenhede, waarvan 231 vir lae-inkomsteverdieners en 13 vir die laer-middelinkomsteklas bestem is, is na bewering in die pyplyn teen ’n geraamde koste van N$85,3 miljoen. Nie een van dié eenhede is egter deel van die ambisieuse belofte van 5 000 wooneenhede wat die goewerneur gemaak het toe hy in Maart die amp betree het nie.

GEWAAGDE BELOFTE

Nujoma het in April aangekondig sy kantoor sal leiding neem in die kontruksie van 5 000 huise en om dienste aan dieselfde aantal erwe binne ’n jaar te verskaf, ’n ambisieuse teiken in Namibië se stedelike ontwikkelingspogings ná onafhanklikwording.

Geen huise is egter tot dusver onder dié inisiatief gelewer nie en geen duidelike tydlyn is tydens sy streekrede verskaf vir wanneer werksaamhede sou begin nie.

Die syfers wat aangehaal is, is deur waarnemers as teleurstellend en onverwant aan die kernbelofte beskryf.

Network Media Hub (NMH) het voorheen berig die NHE het net meer as 18 000 huise in 31 jaar gebou, ’n gemiddeld van minder as 600 per jaar. Die nasionale massabehuisingsprojek het minder as 4 400 eenhede oor ’n dekade gelewer, ten spyte van sy begroting van N$1 miljard.

In sy streekrede het Nujoma ondersteunende infrastruktuurontwikkelings uitgelig. Dit sluit in die omheining van grond by Plaas 508, wat geoormerk is vir toekomstige behuising, skool- en kliniekkonstruksie en die installering van infrastruktuur vir grootmaat-watervoorsiening in vennootskappe met die Shack Dwellers Federation of Namibia en die Namibia Housing Action Group.

Volgens Nujoma is 142 nuwe erwe toegerus met basiese waterinfrastruktuur in gebiede soos Katutura en Greenwell Matongo. Intussen val 244 wooneenhede wat in sy streekrede genoem word binne bestaande NHE-programme.

DRUK

Met ’n bevolking van 494 605 is Khomas die mees digbevolkte streek in Namibië.

’n Beduidende deel van sy inwoners woon in informele nedersettings, dikwels sonder voldoende behuising, water of sanitasie. Die gaping tussen aanvraag en aanbod bly steeds groei, met gemeenskapsleiers wat waarsku oor toenemende frustrasie.

Ten spyte van vertragings hou die goewerneur se kantoor vol die lewering van behuising bly ’n topprioriteit en dat vordering agter die skerms aan die gang is.

Geen opdaterings is egter gegee oor die beskikbaarheid van grond, gedienste erwe of boutenders wat direk verband hou met die plan om 5 000 huise te bou nie.

Vir nou is die enigste bevestigde resultaat die 11 voltooide huise, minder as 0,25% van die beloofde syfer, en die belofte van meer wat sal volg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer