Die Tsumeb-munisipaliteit se uitvoerende hoof, Frans Enkali. FOTO ARGIEF
Die Tsumeb-munisipaliteit se uitvoerende hoof, Frans Enkali. FOTO ARGIEF

Nog geen eksterne oudit vir Tsumeb-munisipaliteit

Oog glo op Suid-Afrikaanse ouditeursfirma
Eksterne oudits van plaaslike owerhede val volgens die wet onder die jurisdiksie van die kantoor van die ouditeur-generaal.
Phillipus Josef
Die Tsumeb-munisipaliteit se uitvoerende hoof, Frans Enkali, het beweringe ten sterkste ontken dat die raad beplan om ’n Suid-Afrikaanse ouditeursfirma teen ’n koste van N$6 miljoen aan te stel om sy finansiële sake te oudit.

Hy het dit as “valse bewerings” afgemaak.

In ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) het Enkali gesê eksterne oudits van plaaslike owerhede val volgens die wet onder die jurisdiksie van die kantoor van die ouditeur-generaal en daar is geen bepaling wat die raad toelaat om onafhanklik eksterne ouditeursmaatskappye aan te stel nie. “Eksterne oudits word gewoonlik deur die kantoor van die ouditeur-generaal gedoen. Ons het nie ’n ouditeursfirma hier nie,” het Enkali gesê.

“Hoe kan ons ’n eksterne ouditeur vra om dit te doen? Onder watter wet? Ons het nie ’n bepaling in die wet wat dit sê nie.”

Sy kommentaar volg in reaksie op ’n dokument gedateer 12 Junie wat NMH onder oë gehad het waarin kommer uitgespreek word oor die raad se beoogde voorneme om ’n eksterne ouditeursmaatskappy aan te stel om sy finansies te ondersoek.

Die dokument, wat deur ’n besorgde inwoner aan die ouditeur-generaal gerig is, bevraagteken die wetlikheid, noodsaaklikheid en koste van so ’n aanstelling.

Die wet op plaaslike owerhede en artikel 127 van die Namibiese Grondwet word in die dokument aangehaal, wat bepaal alle oudits van plaaslike rade moet deur óf die kantoor van die ouditeur-generaal óf deur ’n goedgekeurde ouditeursmaatskappy uitgevoer word.

In die dokument word ook gevra vir ’n ondersoek na of so ’n voorstel, indien dit bestaan, aan hierdie wetlike vereistes voldoen. Buiten die wetlikheid spreek die skrywer ook kommer uit oor waarde vir geld en dat die munisipaliteit reeds met begrotingsbeperkings te kampe het.

“Om N$6 miljoen aan ’n eksterne oudit te bestee wanneer plaaslike gekwalifiseerde ouditeurs dieselfde werk teen beduidende laer koste kan doen, blyk ’n onverstandige gebruik van beperkte openbare hulpbronne te wees,” lui die brief.

Enkali het egter die dokument se interpretasie van die wet verwerp en die geloofwaardigheid daarvan bevraagteken.

“Daar is mense wat nie weet hoe om te lees nie. Hulle weet dalk om ABC te sê, maar wanneer hulle iets lees, weet hulle nie regtig wat dit beteken nie,” het hy gesê.

Tsumeb se burgemeester, Matthews Hangula, het by navraag hom van die kwessie gedistansieer en gesê hy is sedert Mei nie meer by verkrygingskwessies betrokke nie.

“Vir daardie tegniese kwessie moet na die kantoor van die uitvoerende hoof uitgereik word,” het Hangula gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer